On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse vrou gevonnis vir R44 miljoen se taksbedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:53 Thu, 13 Feb 2025

Vrystaatse vrou gevonnis vir R44 miljoen se taksbedrog | News Article
Jessica en Pieter Janse van Nieuwenhuys. Foto: Facebook

’n Gewese Vrystaatse rekenmeester wat skuldig bevind is aan belastingbedrog is altesaam twaalf jaar tronkstraf opgelê.

Jessica Janse van Nieuwenhuys (36) is Woensdag (12/2) in die hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis nadat sy skuldig bevind is aan belastingbedrog van meer as R44 miljoen, sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder.

Die Valke het Jessica en Pieter Janse van Nieuwenhuys (35) op 22 Mei in Gqeberha in hegtenis geneem.

Volgens kol. Zweli Mohobeleli, provinsiale Valke-woordvoerder, het hulle op Kroonstad gewoon toe hulle die belastinggaarder bedrieg het. Die ondersoek, gelei deur die Valke in samewerking met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), is begin nadat onreëlmatighede in die egpaar se belastingopgawes van 2018 tot 2022 aan die lig gekom het.

Jessica Marieka Janse van Nieuwenhuys. Foto: Valke

Senokoatsane sê as deel van ’n pleitooreenkoms het Jessica skuld beken op 174 aanklagte van bedrog en 24 aanklagte van geldwassery. “In ruil daarvoor is al 26 aanklagte van bedrog teen haar man, Pieter, laat vaar.

“Die egpaar is besig om hul bates te likwideer, insluitend dié wat met die opbrengs van hul onwettige aktiwiteite gekoop is.”

Hy sê ’n beduidende deel van hul bates sal verbeur word aan die batebeslagleggingseenheid van die NVG, insluitend ’n plaas, huis, werkwinkelgebou op Parys, ’n Audi A4, meublement en R500 000 kontant.

Pieter Janse van Nieuwenhuys. Foto: Valke

Volgens die staat was Jessica vir belastingdoeleindes by die SAID geregistreer onder die naam Berg Flair, en was sy verantwoordelik vir die hantering van die boekhouding vir ’n aantal vragmaatskappye op Parys.

“Jessica het bedrieglike belastingopgawes namens hierdie maatskappye ingedien, wat dit moontlik gemaak het om geld te verduister. Die totale bedrag wat na bewering by die SAID bedrieg is, het R44 miljoen oorskry, wat die staat ’n geraamde verlies van meer as R77 miljoen laat ly het,” sê Senokoatsane.

‘Meer as R20 miljoen glo uitbetaal aan haar man’

“Die bedrieglike opgawes het verder gestrek as die maatskappye wie se boekhouding sy behartig het en het na bewering opgawes vir haarself, haar man en ander entiteite ingesluit.”

Jan Taks het meer as R44 miljoen na verskeie bankrekenings oorgeplaas, waarvan meer as R25 miljoen betaal is aan Jessica of instellings waarmee sy verbind is.

“Boonop is meer as R20 miljoen glo uitbetaal aan haar man, Pieter, wat in diens was by een van die maatskappye wat destyds by mynbouprojekte betrokke was,” sê Senokoatsane.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.