Central SA
Miljoene later is Noordwes-stadion steeds nie voltooi─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:17 Thu, 13 Feb 2025
![Miljoene later is Noordwes-stadion steeds nie voltooi Miljoene later is Noordwes-stadion steeds nie voltooi | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/00e20d21-5668-42c2-83c6-9aadf1d5d074.jpg?crop=0,75,800,525)
Twee jaar se werk en miljoene rande later is ’n sportstadion in Noordwes steeds nie voltooi nie.
Ongeveer R17 miljoen is vir die stadion by Rustenburg bewillig, maar dit is nog lank nie voltooi nie, sê die DA-wetgewerlid Freddy Sonakile.
Die paviljoen. Foto: Rustenburg-munisipaliteit
“Rustenburg-munisipaliteit het R20 miljoen by die Nasionale Tesourie gekry vir die nuwe Tlhabane-Wes-sportstadion. Die projek sou na verwagting binne agt maande voltooi gewees het, maar dit sloer nou nog.”
Andrew Seome, munisipale woordvoerder, sê hulle het R19,9 miljoen ontvang vir die nuwe stadion, waar konstruksie in Desember 2022 begin het. Hy erken sowat R17 miljoen is reeds bestee. “Die sokkerveld en die paviljoen is klaar, maar werk aan die oorblywende dele is nog hangende.”
Die boumateriaal. Foto: Rustenburg-munisipaliteit
Seome skryf die vertragings toe aan onderbrekings weens die gemeenskap en sakeforums, wat ook kommer uitgespreek het oor die werk wat gedoen word. Boonop is die vertraging vererger deur die behoefte om gespesialiseerde materiaal aan te skaf.
Maar Sonakile wys daarop die projek word geteister deur terugslae, veelvuldige vertragings en die uiteindelike beëindiging van die oorspronklike bouaannemer se kontrak in Augustus.
Nuwe kontrakteur
’n Nuwe kontrakteur is in September aangestel, toe verwag is die werk sou einde Desember voltooi gewees het. Dié spertyd het gekom en gegaan.
Op ’n onlangse besoek aan die terrein het Sonakile weinig min bedrywighede waargeneem, wat die DA aangespoor het om formeel te vra dat die Nasionale Tesourie ondersoek instel.
“Ons eis ’n deeglike ondersoek na hierdie vermorsing. Dis uiters belangrik dat die Nasionale Tesourie seker maak of die geld wat bestee is, verband hou met die vordering wat gemaak is.”
Toiletgeriewe vir toeskouers. Foto: Rustenburg-munisipaliteit
Hy sê die munisipaliteit het gesê bouwerk sal einde vandeesmaand afgehandel word, mits inwoners saamspeel.
Sonakile is gefrustreerd met die voortdurende probleme en beklemtoon die belangrike rol wat infrastruktuur speel om ekonomiese groei te bevorder. Hy kap na die ANC-beheerde munisipaliteite omdat hy voortdurend projekte, waarby die gemeenskap behoort te baat, ontspoor met korrupsie en wanbestuur.
Die paviljoen. Foto: Rustenburg-munisipaliteit
“Dit is onaanvaarbaar dat ’n projek wat die mense van Rustenburg moes ophef, in ’n geval van plundering ontaard het,” het hy bygevoeg.
Seome het verseker dat die kontrakteur op die perseel bly, al is daar nog onopgeloste sake rakende subkontrakteursgeleenthede.