Central SA
Identiteit van Hartbeespoort-drenkeling nog nie bekend gemaak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:40 Wed, 12 Feb 2025
![Identiteit van Hartbeespoort-drenkeling nog nie bekend gemaak Identiteit van Hartbeespoort-drenkeling nog nie bekend gemaak | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/77ae4125-f1d6-4829-bed5-0dea86b434a5.png?crop=0,0,743,418)
Die identiteit van ’n Noordwester, wat vroeër vandeesweek van ’n boot in die Hartbeespoortdam geval het, is steeds nie bekend gemaak nie.
Blykbaar het die man Sondag (9/2) omstreeks 17:00 van sy boot in die dam geval. Ooggetuies het gesien hoe die plaaslike skipper by Eagles Landing by Pecanwood Estate oorboord gaan, het Arthur Crewe, plaaslike NSRI-bevelvoerder, vroeër gesê.
Sy boot het daarna in sirkels beweeg voordat dit op die wal gestrand het.
Polisieduikers en lede van die NSRI se Hartbeespoortdam-tak het Maandag hul soektog voortgesit met die soektog, en die man se liggaam is Dinsdag (11/2) gevind. Nadere besonderhede oor presies waar hy gevind is, is ook nog nie bekendgemaak nie.
Vermiste man se boot het moontlik meganiese probleme ondervind. Foto: The Citizen
Volgens Crewe dui vroeë aanduidings daarop dat die boot meganiese probleme ondervind het toe die man oorboord geval het. “Ooggetuies het beskryf hoe die boot aanhoudend in sirkels beweeg het, en daar is ’n vermoede dat dit moontlik oor die man gery het voordat dit op die wal tot stilstand gekom het.”
Dit blyk ook dat die boot se noodskakelaar moontlik nie geaktiveer was nie en dat dit nie behoorlik geheg was toe die man oorboord gegaan het nie. Die boot is na bewering by Eagle Waters Resort te water gelaat.
Identiteit later bekend
Urby Ackerman, algemene bestuurder van Pecanwood, het Maandag (9/2) bevestig dat die persoon wat oorboord geval het, nie ’n inwoner van die landgoed was nie.
“Ons dink aan die oorledene se naasbestaandes in hierdie moeilike tyd,” het Crewe bygevoeg.
Die polisie ondersoek steeds die voorval, en die man se identiteit sal later bekend gemaak word.