On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse meisie ontslaan uit Amerikaanse hospitaal

───   ZENANDE MPAME 15:27 Tue, 11 Feb 2025

Bloemfonteinse meisie ontslaan uit Amerikaanse hospitaal | News Article
Janique Venter is Saterdag ontslaan ná ’n operasie om ’n ganglioneuroomgewas te verwyder. Foto: Facebook/Hulp en Gebede vir prinses Janique

’n Sewejarige van Bloemfontein word as buitepasiënt behandel in die St Jude-navorsingshospitaal vir kinders in Memphis, Tennessee, nadat sy uit die hospitaal ontslaan is.

Janique Venter (7) is Saterdag (8/2) ontslaan ná ’n operasie einde Januarie om ’n ganglioneuroomgewas aan die regterkant van haar nek te verwyder. 

Janique en haar ouers, Nadine Mukheibir en Jacques Venter, het die naweek op ’n plaas deurgebring wat aan Suid-Afrikaners behoort en het Sondag (9/2) na die hospitaal se gastehuis teruggekeer.


“Die uitstappie het ons almal baie goed gedoen, veral Janique,” sê Mukheibir. “Janique herstel baie goed, die swelling aan die kant van haar gesig neem steeds af, en sy eet en drink goed.

“Sy kan nog nie praat nie, maar ons bid dat sy, wanneer hulle haar tragea verwyder nadat ons terug is in Suid-Afrika, weer sal kan. Ons kan skaars wag dat dié wens waar woord.”

Die swelling aan die kant van haar gesig neem steeds af. Foto: Facebook/Hulp en Gebede vir prinses Janique

Janique het twee groot operasies ondergaan. Die eerste een, op Dinsdag (28/1), het die permanente sluiting van haar regterslagaar behels om te verseker dat haar linkerslagaar genoeg bloed aan haar brein voorsien. Die volgende dag het ’n span dokters ’n 21 uur lange operasie uitgevoer om die gewas uit haar nek te verwyder.

Sy was net ses maande oud toe fase 3-neuroblastoom by haar gediagnoseer is – ’n kanker wat meestal in die byniere voorkom, maar ook in die maag, borskas, nek, kop en ruggraat kan ontwikkel.

Span dokters in Memphis

“Hou asseblief aan bid vir ons klein prinses. Ons wil vir almal dankie sê vir julle gebede, donasies, boodskappe, oproepe en al julle ondersteuning. Ons waardeer dit opreg,” sê Mukheibir.

In Maart 2023 het Janique ’n biopsie ondergaan wat getoon het dat die gewas nie meer kankeragtig was nie, maar steeds riskant was om te verwyder. In Desember het haar ouers die nuus ontvang dat ’n span dokters in Memphis bereid was om dit te verwyder.

Janique het ’n Facebook-blad waar mense haar reis en herstel kan volg. Hulle skep daagliks inskrywings om almal op die hoogte te hou.

OFM Nuus/Zenande Mpame

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.