On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Moordsaak: Olifant-eienaar hoor binnekort oor borgaansoek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:19 Tue, 11 Feb 2025

Moordsaak: Olifant-eienaar hoor binnekort oor borgaansoek | News Article
Sonell Joubert word aangekla van die beweerde moord op Jurgens Nel. Foto: Facebook

’n Moordverdagte van Mpumalanga sal na verwagting binne ’n week weet of haar borgaansoek geslaag het ná ’n man in haar olifantpark se mesdood.

Sonell Joubert (45), eienaar van Tswale Educational Elephant Interactions, het Maandag (10/2) met haar borgtogaansoek in die Tonga-landdroshof begin, sê lt.kol. Jabu Ndubane, ’n polisiewoordvoerder.

Joubert het tydens haar eerste hofverskyning aangevoer sy het haarself met ’n mes verdedig teen Jurgens Nel (45), wat haar beskermingsbevel teen hom na bewering verontagsaam het. Sy beweer hy het haar beledig, ’n mes uitgepluk en haar probeer wurg.

Sy het die bevel enkele dae voor sy dood bekom. Nel was ’n werknemer by Lowhills Safaris, wat op dieselfde plaas as die olifantpark bedryf word.


Die polisie is verlede Maandag na Lowhills om Nel in hegtenis te neem vir die oortreding van die beskermingsbevel. Beamptes het egter op sy liggaam afgekom in sy kamer, waar hy meermale met ’n mes gesteek is. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar. Nel is na bewering Sondag (2/2) doodgesteek.

Joubert is dieselfde dag in hegtenis geneem.

Volgens Ndubane is Joubert en haar vriend, Johan Möller, voor die huidige hofverrigtinge in hegtenis geneem vir minagting van die hof.

“Die inhegtenisneming spruit uit ’n saak wat Shofeeds (Edms.) Bpk. teen Joubert en Möller aanhangig gemaak het. Shofeeds besit die plaas waar hulle hul onderneming bedryf. Joubert en Möller het geweier om die eiendom te verlaat en Shofeeds het aansoek gedoen om die olifant te laat verwyder,” sê Ndubane.

Jurgens Nel. Foto: Facebook

Joubert en Möller het teen die aansoek geappelleer en aangehou om die onderneming op die eiendom te bedryf. Die grondeienaar het aangevoer dat hy strafregtelik aanspreeklik gehou kon word as iemand tydens interaksies met die olifant beseer of gedood sou word, sê hy.

Die hooggeregshof het die aansoek toegestaan, maar Joubert en Möller het die hofbevel verontagsaam om die dier binne sewe dae te verwyder. Hulle het op 15 Augustus teen die besluit geappelleer, maar die appèl is van die rol geskrap omdat hulle nie opgedaag het nie.

Die saak is op Möller se versoek weer op die hofrol geplaas vir 20 Augustus, maar weer is die appèl van die hand gewys nadat Joubert en Möller versuim het om te verskyn. 

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.