Central SA
Alison Botha se aanvallers kry dalk eers oor twee jaar parool─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:25 Tue, 11 Feb 2025
![Alison Botha se aanvallers kry dalk eers oor twee jaar parool Alison Botha se aanvallers kry dalk eers oor twee jaar parool | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/21218212-0b10-4f65-bbdd-d56a21adde97.jpg?crop=0,42,800,492)
Die twee mans wat ’n vrou drie dekades gelede verkrag, aangerand en vir dood agtergelaat het, in wat toe as Port Elizabeth bekend was, sal eers weer oor twee jaar heroorweeg word vir parool.
Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het op 4 Julie 2023 aangekondig die paroolraad het besluit om Frans du Toit (56) en Theuns Kruger (55) ná ’n deeglike, drie jaar lange proses op parool vry te laat.
Alison Botha (56) se twee verkragters en aanvallers is Maandagaand (2/2) weer in hegtenis geneem nadat hulle 28 jaar van hul lewenslange vonnisse uitgedien het.
“Ek het Kruger en Du Toit se parool teruggetrek ná deeglike oorweging en konsultasie met regsmenings,” sê dr. Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste.
Alison Botha is 30 jaar gelede vir die dood agtergelaat. Foto: Facebook
Hy sê dié besluit is geneem ingevolge die Wet op Korrektiewe Dienste, wat die minister bemagtig om parool te kanselleer vir lewenslange vonnisse. “Die gemeenskap moet beskerm en beveilig word, veral in gevalle waar geweld teen vroue en kinders gepleeg is.”
Hy bevestig hulle kan ná twee jaar weer om parool aansoek doen, wanneer hul geskiktheid heroorweeg sal word op grond van verskeie verslae, insluitend dié van sielkundiges en kriminoloë.
Alison net ná haar onlangse operasie. Foto Facebook
Kruger en Du Toit het Botha in 1994 meer as 30 keer met ’n mes gesteek, haar keel byna afgesny, haar herhaaldelik verkrag, haar maag oopgesny en ingewande verwyder, haar keel soveel keer gesny dat sy amper onthoof is en vir dood agtergelaat.
Sy het met haar een hand haar kop regop gehou en met die ander hand haar ingewande gedra toe sy hulp gaan soek het. Hulle is albei tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Botha het die laaste jare talle gesondheidsterugslae beleef. In September het sy weens ’n breinaneurisme om haar lewe geveg. Sy het ook twee breinoperasies ondergaan.
Luidens berigte is Du Toit terug in die Grootvlei-gevangenis in Bloemfontein nadat hy glo hier gewoon en gewerk het sedert hy uit die tronk vrygelaat is. Dit is nie bekend in watter tronk Kruger aangehou word nie.
OFM Nuus cg