Central SA
Parysenaars keelvol vir gedurige krag- en wateronderbrekings─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:17 Tue, 11 Feb 2025
![Parysenaars keelvol vir gedurige krag- en wateronderbrekings Parysenaars keelvol vir gedurige krag- en wateronderbrekings | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/f5b089cd-b809-4535-8953-a367bd18ef9a.jpg?crop=0,101,800,551)
Ten spyte van talle pogings, dringende hulpkrete en selfs ’n interdik, versuim ’n Vrystaatse munisipaliteit om enigiets sinvols te doen aan voortslepende krag- en wateronderbrekings – of die goor watergehalte wanneer dit wel beskikbaar is.
“Ten spyte daarvan dat hulle weke lank bewus is van die foutiewe breker, het munisipale amptenare geen doeltreffende stappe gedoen om die hoofoorsaak van die probleem (op te los) nie,” sê Marié la Cock, Ngwathe-DA-raadslid oor die toestand op Parys. “Hierdie nalatigheid het gelei tot nog ’n voorkombare kragonderbreking.”
Sy sê die DA verkwalik die munisipaliteit vir sy versuim om beslissend op te tree. “Inwoners is toenemend gefrustreerd en kwaad oor die voortdurende krag- en wateronderbrekings – baie sê hulle het genoeg gehad van die aanhoudende ontwrigtings.”
Die watersituasie word vererger deur gereelde kragonderbrekings, sê Alta Pretorius, AfriForum se Mooirivier-distrikskoördineerder. “Soms gaan dae verby voordat krag herstel word, waartydens water nie eens na toilette gepomp kan word nie. Sedert 1 Januarie het ons reeds verskeie kragonderbrekings op die dorp ervaar.”
Inwoners toenemend gefrustreerd en kwaad
La Cock bestempel die vlak van verwaarlosing deur die munisipaliteit as “heeltemal onaanvaarbaar”. Die munisipaliteit was ten volle bewus van die probleem, maar het versuim om vinnig op te tree, sê sy, wat dui op ’n “duidelike gebrek aan aanspreeklikheid en ’n verontagsaming van dienslewering”.
Dr. Futhuli Mothamaha, munisipale bestuurder, het aan die DA bevestig die munisipaliteit is besig om nuwe brekers en ’n outomatiese sluiterstelsel aan te koop.
La Cock sê ’n vergadering is vir 22 Januarie beplan om vordering te bespreek, maar die besonderhede van die byeenkoms is nooit bevestig nie.
Toetse wat verlede maand deur ’n geakkrediteerde laboratorium gedoen is, het getoon Parys se water is steeds onveilig vir menslike gebruik.
Verontagsaming van dienslewering
“AfriForum het op 16 Januarie toetse laat doen nadat hulle verskeie klagtes oor swak watergehalte ontvang het. Die resultate het die teenwoordigheid van fekale koliforme bakterieë aan die lig gebring, wat siektes soos tifuskoors kan veroorsaak,” sê Pretorius aan OFM Nuus.
Die water voldoen volgens die uitslae ook nie aan nasionale standaarde vir drinkwater nie. “Hierdie kommerwekkende gevolgtrekking kom uit ’n tweede stel toetse wat net twee weke later uitgevoer is. Hierdie toetse, wat op 28 Januarie gedoen is, het die voortgesette gesondheidsrisiko’s wat met die water in Parys geassosieer word, bevestig.”
Ná eerste ronde toetse het AfriForum ’n dringende brief aan Ngwathe gerig om hom oor die ernstige gesondheidsrisiko’s in te lig. Dis met ’n dawerende stilte begroet, sê Pretorius. Die brief en toetsuitslae is ook aan die departement van samewerkende regering en tradisionele sake gestuur, weer sonder enige reaksie.
Water voldoen nie aan drinkwater-standaarde
Intussen wag AfriForum steeds op ’n beslissing in ’n hofaansoek oor die krisis. Die organisasie het in Desember verlede jaar ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien waarin ingryping kragtens artikel 139 van die Grondwet versoek word, wat provinsiale regerings toelaat om in te gryp en ’n munisipaliteit onder administrasie te plaas wanneer dit versuim om sy pligte na te kom.
Pretorius sê ten spyte van ’n hofbevel, wat AfriForum verlede jaar bekom het wat die weiering van toegang tot die waterwerke verbied, is niemand toegelaat om die watersuiweringaanleg te inspekteer nie.
Die munisipaliteit was veronderstel om verlede jaar die eerste fase van opgraderings aan die wateraanleg af te handel, maar AfriForum is maande lank toegang belet, wat dit onmoontlik maak om enige verbeterings te bevestig.
OFM Nuus het die munisipaliteit om kommentaar genader.