On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Meer Bloemfonteiners sê nee dankie vir metro se vullisverwydering

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:59 Mon, 10 Feb 2025

Meer Bloemfonteiners sê nee dankie vir metro se vullisverwydering | News Article
AfriForum se Bloemfontein-tak verwyder vullis. Foto verskaf

Mangaung-metro het weer die afgelope week bewys waarom meer as 700 inwoners nie hul vullisverwyderingsdiens wil gebruik nie, nadat hulle nie die diens kon lewer nie weens ’n dieseltekort.

Dié kwessie het aan die lig gekom toe Qondile Khedama, Mangaung-kommunikasiebestuurder, Maandag (3/1) aankondig geen vullisverwydering sal vandeesweek in Bloemfontein en die metro se ses ander dorpe plaasvind nie weens ’n tekort aan diesel.

AfriForum se Bloemfontein-tak het intussen ingespring en vullis begin verwyder, sê Christo Groenewald, streekskoördineerder, en voeg by hulle het die metro nogmaals gewaarsku oor die voortdurende swak bestuur van vullisverwydering.

Mangaung-brandweer se diesel word glo vir vullisverwydering gebruik. Foto verskaf

“Terwyl ons ’n verantwoordelikheid het teenoor ons lede wat vir ons diens betaal, het ons ook die inisiatief geneem om verskeie meenthuiskomplekse en ouetehuise se vullis wat reeds begin ophoop het, te verwyder.”

Meer as 650 belastingbetalers het reeds in Mei aansoek gedoen om op te hou betaal vir ’n diens wat nie gelewer word nie. Volgens Groenewald het altesaam 700 inwoners reeds vrystelling van die metro se vullisverwydering versoek. AfriForum het dié aansoeke, saam met ’n finale aanmaningsbrief, op 31 Januarie by die metroraad ingedien.

AfriForum se regspan het reeds ’n jaar tevore ’n finale eisbrief oor vullisverwydering aan die metro gestuur weens die munisipaliteit se voortdurende wanbestuur van dié diens.

Honderde inwoners eis reeds vrystelling van die metro se vullisverwydering. Foto verskaf

“Terwyl die metro reeds nie voldoende dienste kan lewer nie, met ’n brandstoftekort wat dienslewering sedert 28 Januarie verder bemoeilik, sal AfriForum (aanhou) om proaktief op te tree om gemeenskappe te ondersteun,” sê Groenewald.

“Ons het die afgelope week nuwe vullisdromme afgelewer by huishoudings, wat by AfriForum se vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein aangesluit het.”

Kritieke kwessie

Groenewald sê die gebrek aan betroubare dienslewering deur die metro word ’n kritieke kwessie wat nie langer geïgnoreer kan word nie. “Die huidige afvalbestuurskrisis verg onmiddellike aandag, en die metro se versuim om op te tree is onaanvaarbaar.”

AfriForum moedig inwoners aan wat nie meer die metro se vullisverwyderingsdienste wil gebruik nie, om aansoek te doen vir die kansellasie daarvan sodat hulle eerder private diensverskaffers kan kies.

AfriForum oorweeg verdere aksie. Foto verskaf

Groenewald beklemtoon AfriForum lewer nie net dienste nie, maar veg ook vir sy lede se regte. “Inwoners en belastingbetalers (mag) kies watter dienste hulle wil gebruik.”

As die metro nie teen 14 Februarie op AfriForum se brief reageer nie, sal die organisasie verdere aksie ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid oorweeg.

‘Brandweer se diesel vir vullisverwydering gebruik’

Intussen het VF Plus-raadslid Valerie de Kock onthul die brandweer se diesel word nou vir vullisverwydering gebruik. Dit stel lewens en bates in gevaar, maan sy. “Brandstof wat vir nooddienste soos brande bedoel is, kan nie (gebruik) word vir ’n basiese diens soos vullisverwydering nie. Dit dui duidelik op wanbestuur en swak beplanning.”

Zuzu Thekisho, die metro se finansiële hoof, het op ’n vergadering met departementshoofde bevestig dat die munisipaliteit ’n kontrak met ’n nuwe dieselverskaffer aangegaan het, sê De Kock, wat toe voorafbetaling geëis het. Dit was nie deel van die oorspronklike ooreenkoms nie.

AfriForum se Bloemfontein-tak verwyder vullis. Foto verskaf

Die VF Plus vra ’n dringende ondersoek na of behoorlike tender- en kwotasieprosesse gevolg is en of die verskaffer aan al die nodige kwalifikasies voldoen het. De Kock het ook die metro aangemoedig om ander reëlings te tref om diesel te beveilig sonder om nooddienste in die gedrang te bring.

OFM Nuus het Sello More, munisipale bestuurder, om kommentaar genader.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.