On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse hoof aangekla van aanranding op leerder

───   KEKELETSO MOSEBETSI 13:03 Mon, 10 Feb 2025

Bloemfonteinse hoof aangekla van aanranding op leerder | News Article
Foto ter illustrasie: OFM Nuus

’n Skoolhoof (59) van Bloemfontein word ondersoek vir ’n beweerde aanranding op ’n gr. 11-leerder.

Die skoolhoof staan tereg op ’n klag van gewone aanranding nadat hy na bewering die leerling op 24 Januarie te lyf gegaan het nadat dié medeleerders met klippe gegooi het. 

Toe die leerder na ’n klaskamer gevlug het, het die skoolhoof hom daar trompop geloop en na bewering in die gesig geslaan. Die voorval is drie dae later by die Kagisanong-polisiekantoor aangemeld, toe ’n aanrandingsklagte ingedien is.

Martin Xuma, Vrystaatse polisiewoordvoerder, bevestig die saak word ondersoek. Die hoof sal binnekort in die hof verskyn.

Hy het probeer ingryp nadat hy van die aanranding verneem het, sê Keisho Tau, voorsitter van die skoolbeheerliggaam. Tau het die skoolhoof probeer nader, maar is glo geïgnoreer.

Volgens hom het die skoolhoof geweier om die voorval te bespreek en gesê hy hoef nie met Tau te praat nie, aangesien Tau nie die kind se ouer is nie.

‘Hy het prontuit geweier om die stemboodskap te bespreek’

Op Sondag 26 Januarie het hy die slagoffer se familie ná kerk besoek om hul weergawe te hoor. “Ek het kort tevore die skoolhoof gebel oor ’n stemboodskap oor die aanranding wat aan my gestuur is.

“Hy het prontuit geweier om die stemboodskap te bespreek, want ek is nie die leerder se ouer nie. Ek het vir hom gesê ek beskou al die leerders daar as my kinders.”

Tau beweer hy het die SBL-sekretaris, wat ook ’n onderwyser aan die skool is, versoek om ’n vergadering oor die voorval te belê, sonder sukses. Hy het die voorval by die Departement van Onderwys aangemeld, maar wag steeds op reaksie.


Die leerder se ouer is bekommerd oor moontlike wraakoptrede teen haar kind, aangesien die skoolhoof steeds sy pos beklee, sê Tau. Hy beweer ook die leerder en drie ander kinders het op die speelgrond gespeel toe hulle die skoolhoof sien aankom en na ’n klaskamer gevlug het.

Die skoolhoof het glo twee onderwysers opdrag gegee om die leerder vas te hou. Volgens Tau is die slagoffer toe uitgesonder en het die skoolhoof hom uitgeskel. Selfs toe ander leerders glo probeer het om die skoolhoof te keer, het hy die leerder na bewering verskeie kere geslaan.

OFM Nuus het die Vrystaatse onderwysdepartement om kommentaar genader.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi mvh/cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.