Central SA
Geskiedkundige grafte op Vrystaatse dorp verwaarloos, verwoes─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:09 Fri, 07 Feb 2025
![Geskiedkundige grafte op Vrystaatse dorp verwaarloos, verwoes Geskiedkundige grafte op Vrystaatse dorp verwaarloos, verwoes | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/96377134-07c6-4a13-bc35-5640cdaaf6fc.jpg?crop=0,76,797,524)
Historiese grafte uit die Anglo-Boereoorlog en van Voortrekkerleiers op een van die Vrystaat se oudste dorpe word aan verwaarlosing, misdaad en vandalisme onderwerp.
Die DA het planne aangekondig om druk op Masilonyana-munisipaliteit te plaas om die waardigheid te herstel van Winburg se begraafplase, wat slagoffers van skreiende miskenning geword het, sê DA-raadslid Brunhilde Rossouw.
“Grafstene is omgegooi en stukkend, historiese oorlogsmonumente is geplunder en heinings wat deur die gemeenskap gebou is, is ook afgehaal. Hoe kan dit toegelaat word om voort te gaan?” wil sy weet.
‘Nisse met as oopgebreek’
In sommige gevalle word gebiede wat eens bedoel was om rusplekke van geliefdes te wees, as tydelike krale vir diere aangewend. Tot oormaat van ramp, is nisse met as oopgebreek, wat op verdere gebrek aan respek vir oorledenes dui, sê Rossouw en voeg by dat dit ’n skande geword het vir die oorledenes en hul families.
Die party vra nou dat die plaaslike owerheid aanspreeklik gehou word vir wat hulle beskou as ’n “skandelike verwaarlosing” van die dorp se begraafplase.
Winburg, ook eers bekend as Wenburg, is die eerste dorp wat deur die Voortrekkers aangelê is. Foto verskaf
Die hele gemeenskap is woedend oor die munisipaliteit se gebrek aan sorg , sê sy. “Mense moet die reg hê om hul geliefdes in vrede te besoek.”
Winburg is in 1841 op die plaas Waaihoek aangelê as die eerste Voortrekkerdorp in die Vrystaat. Die naam was oorspronklik “Wenburg” en verwys moontlik na ’n militêre oorwinning oor die Matabele by Mosega op 17 Januarie 1837, of na die oorwinning van die voorstanders van Waaifontein as terrein vir die dorp se aanleg, volgens Plekname van Suider-Afrika.
Die omgewing se begraafplase is veronderstel om blywende gedenktekens aan tragiese gebeure te wees soos talle oorloë, insluitend konflikte met die Matabele, Basotho, die Anglo-Boereoorlog en die 1914-rebellie, toe die plaaslike NG gemeente, die oudste in die provinsie, geskeur het.
Foto verskaf
Die koste van begrafnisse in hierdie verwaarloosde begraafplase is twee keer so hoog as in gebiede wat behoorlike instandhouding ontvang. “Ons betaal vir ’n diens wat ons nie kry nie. Waar gaan die geld heen?” vra Rossouw.
Sy het ook daarop gewys dat die historiese Anglo-Boereoorlog-begraafplaas nie vandalisme en gebrek aan aandag vryspring nie, en die Voortrekkerbegraafplaas het in ’n brandpunt vir misdadige bedrywighede ontaard.
‘Metaalkruise gesteel en verkoop vir skroot’
“Diefstal het hierdie erfenisterreine verwoes. Hekke en metaalkruise is gesteel en verkoop vir skroot, en (daar is) selfs by die bekende krip ingebreek. Dit is nie meer net ’n begraafplaas nie; dis ’n misdaadtoneel,” beaam Rossouw.
“Die Gemeenskapswerkeprogram (GWP), wat verantwoordelik is vir die instandhouding van hierdie terreine, versuim sy plig.”
Foto verskaf
Die DA eis onmiddellike optrede om die begraafplase te beveilig en te herstel. “Ons moet ons geskiedenis beskerm. Deur hierdie begraafplase te restoureer, eer ons nie net die oorledenes nie, maar verseker ons ook dat Winburg se ryk erfenis vir toekomstige geslagte gerespekteer word,” meen Rossouw.
“Geskiedkundige begraafplase lok toeriste van dwarsoor die wêreld. Dit is ’n geleentheid vir Winburg om trots te wees op sy geskiedenis, terwyl dit ook toerisme bevorder. Dié geleentheid word egter weens verwaarlosing verkwis. Ons geskiedenis kan nie toegelaat word om so te vervaag nie.”