Central SA
Nog geen leidrade ná diefstal van Noordwes-troulandgoed se hek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:57 Fri, 07 Feb 2025
![Nog geen leidrade ná diefstal van Noordwes-troulandgoed se hek Nog geen leidrade ná diefstal van Noordwes-troulandgoed se hek | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/bb1a9cbd-5401-4fb5-a345-44a957b77a39.jpg?crop=0,131,600,469)
Die polisie in Noordwes vra mense moet help met inligting nadat ’n groot toegangshek Saterdagaand by die Ourief Troulandgoed gesteel is.
Sosialemediagebruikers krap intussen kop oor hoe so ’n swaar hek tussen neus en ore kon verdwyn.
Dit het Saterdag tussen 23:00 en middernag voete gekry, sê Liesl Fourie, die onthaalplek se eienaar. Dis spesiaal vir hulle ontwerp en maak ’n integrale deel van hul landgoed uit. “Die hek, ter waarde van R25 000, is deel van die troulokaal se tema, en alle ander hekke in die lokaal is in dieselfde styl ontwerp.”
Die staalwerk op die landgoed is spesiaal vir hulle ontwerp. Foto: Facebook/Ourief Troulandgoed
Die hoofingang staan sowat 16 km buite Potchefstroom aan die R53 in Parys se rigting, terwyl die trouvenue nog 3,5 km verder op die plaas geleë is. “Weens hierdie afstand het die landgoed nie ’n direkte uitsig op die ingang of die gesteelde hek nie,” verduidelik Fourie.
Sy het die diefstal Maandag by die polisie aangemeld, en speurders het intussen ’n ondersoek van stapel gestuur. Hulle het egter nog geen leidrade gekry nie. Veiligheidskameras langs die R53 het blykbaar geen beeldmateriaal van die vermiste hek nie.
Fourie is gefrustreerd oor die diefstal, maar sy bly dankbaar dat niemand tydens die voorval beseer is nie. “Goed kan vervang word, maar geliefdes is onvervangbaar,” sê Fourie.
Ourief Troulandgoed. Foto verskaf
In Suid-Afrika het diefstal van metaal, soos staalhekke, ’n groot bekommernis geword. Diewe stel dikwels hul visier in op hierdie strukture en breek dit op in kleiner stukke om as skrootmetaal te verkoop, berig EndMetalThief.
Hierdie misdaad word aangevuur deur die groot vraag na metale soos koper en staal, wat goeie pryse in die skrootmark kan behaal. Die gesteelde metaal word gewoonlik aan skrootwerwe verkoop, waar dit die herwinningstroom binnegaan, wat dit moeilik maak om dit op te spoor.
Dié misdaad lei nie net tot geldelike verliese vir eiendomseienaars nie, maar hou ook veiligheidsrisiko’s in en ondermyn infrastruktuurintegriteit. Pogings om metaaldiefstal te bekamp sluit in skerper veiligheidsmaatreëls, openbare bewusmakingsveldtogte en strenger regulasies oor skrootmetaaltransaksies.