On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Tweede bejaarde binne soveel weke in Vrystaat aangeval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:08 Fri, 07 Feb 2025

Tweede bejaarde binne soveel weke in Vrystaat aangeval | News Article
’n Tweede aanval op ’n bejaarde op Clarens is kommerwekkend. Foto: iStock

Die polisie op Clarens in die Oos-Vrystaat vra inwoners moet dringend help met inligting oor twee huisbrake die afgelope weke waarin bejaardes aangerand is.

’n Vrou (92)  is Dinsdag (4/2) omstreeks 01:15 in haar huis op die skilderagtige toeristedorpie aangeval en beroof, sê ao. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Twee weke vantevore is ’n bejaarde egpaar ook tuis oorval, wat dui op “’n ontstellende tendens” van aanvalle op “kwesbare bejaardes”, sê Mophiring.

Blykbaar het die 92-jarige wakker geskrik en twee mense buite haar kamervenster gewaar. Die verdagtes het toegang tot haar huis deur die agterdeur verkry en geld geëis, maar haar aangerand toe sy hulle niks kon gee nie, sê Mophiring.

Ontstellende aanvalle op kwesbare bejaardes

Een van die verdagtes het glo die vrou met ’n gebreekte bottel oor die kop geslaan en ’n diep sny in haar gesig gelaat. Sy word nog in die hospitaal behandel.

Die verdagtes het hulle uit die voete gemaak met verskeie items, waaronder ’n selfoon. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Man tydens inbraak aangerand

Op 26 Januarie is ’n man (82) tydens ’n inbraak by sy huis met ’n klip oor die kop geslaan is. “Die aanval het omstreeks 02:00 plaasgevind en die slagoffer se vrou was toe ook tuis,” sê Mophiring.

Die polisie vra inwoners moet betrokke raak by buurtwagte en gereelde patrollies, wat aansienlik kan help om misdaad in hul woonbuurte te bekamp.

Enigiemand met inligting oor hierdie voorvalle, kan Stop Misdaad by 08600 10111 bel of die ondersoekbeampte by 082 466 7624 nader.

’n Saak van huisroof word ondersoek.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.