On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Tugstappe kom teen Noord-Kaapse polisiekaptein na skokgedrag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:31 Fri, 07 Feb 2025

Tugstappe kom teen Noord-Kaapse polisiekaptein na skokgedrag | News Article
Die polisiekaptein van Upington. Foto: Skermgreep

Tugoptrede is die voorland van ’n Noord-Kaapse polisiekaptein ná ’n voorval waarin hy ’n boer en ander mense uitskel.

Die voorval in die omgewing van Upington is op video vasgelê en wyd op sosiale media versprei. 

Teen Vrydag (7/2) dis dit reeds meer as 250 000 keer op TikTok gekyk. Die video is vermoedelik vroeg in Desember verfilm.

‘Meneer, ek het jou net met respek behandel’

Daarin konfronteer die polisiekaptein ’n man – vermoedelik ’n boer – in sy Toyota Land Cruiser. Hy draai dan om, nader die persoon wat die video opneem aggressief en wys vir hom sy vinger terwyl hy aanstootlike taal gebruik.

Die boer sê: “Meneer, ek het jou net met respek behandel,” maar die kaptein hou aan op hom vloek en skel. Die beampte identifiseer homself as kapt. Billyboy van Wyk in die video voordat hy in sy polisievoertuig klim en wegry. 

Lt.genl. Koliswa Otola, provinsiale kommissaris, spreek in reaksie op die beeldmateriaal haar “uiterste ontevredenheid, skok en teleurstelling” uit en ’n verklaring uitgereik waarin sy die beampte se “onprofessionele en onvanpaste gedrag” veroordeel.

‘Die saak word met die uiterste dringendheid hanteer’

Brig. Mashay Gamieldien, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, voeg by hulle verwag van alle polisiebeamptes om die hoogste standaarde van gedrag te handhaaf, insluitend onpartydigheid, hoflikheid, eerlikheid, respek, deursigtigheid en aanspreeklikheid, soos uiteengesit in die polisiediens se gedragskode.

Otola sê die beampte se optrede het die reputasie van die diens ernstig geskend. Sy gee die versekering die saak word met die “uiterste dringendheid” hanteer. 

“Interne tugoptrede is teen die betrokke beampte begin.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.