Central SA
Vrystaatse staatsgeboue se krag gesny weens R1 miljard skuld─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:49 Fri, 07 Feb 2025
![Vrystaatse staatsgeboue se krag gesny weens R1 miljard skuld Vrystaatse staatsgeboue se krag gesny weens R1 miljard skuld | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/e6113962-9979-4396-9a40-bc79b70d4066.png?crop=0,0,800,450)
Mangaung se kragvoorsiener, Centlec, het die kragvoorsiening na talle Vrystaatse staatsdepartemente en sakeondernemings afgeskakel weens uitstaande skuld van meer as R1 miljard.
Van die instellings wat nou in die donker sit, is vername owerheidskantore soos dié van die premier en entiteite soos die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie, die Sand du Plessis-skouburg en Musicon.
Vroeër vandeesweek is die kragtoevoer na verskeie geboue afgesny, waaronder:
- die Lebohang-gebou, waarin die departemente van onderwys, menslike nedersetting en die tesourie gehuisves word;
- die Fidel Castro-gebou, die tuiste van openbare werke en infrastruktuur, die premierskantoor en samewerkende regering en tradisionele sake; en
- die OR Tambo-gebou, wat ander kantore van openbare werke huisves, asook die Lengau-toetssentrum.
Die krag is weens wanbetaling afgeskakel, bevestig Lele Mamatu, Centlec-woordvoerder. “Hierdie onderbreking was noodsaaklik omdat sekere staatsdepartemente en ondernemings nie hul rekening betaal of reëlings tref nie. Die uitstaande skuld beloop oor die R1 miljard.”
Centlec het alles in die stryd gewerp om met wanbetalers oorleg te pleeg en het sy kredietbeheer-en-skuldinvorderingsbeleid nagekom, sê Mamatu. “Ons het kennisgewings uitgereik, maar die voortgesette wanbetaling kniehalter ons vermoë om gehaltediens te lewer.”
Mamatu sê hierdie afsnyprojek is noodsaaklik ter wille van Centlec se volhoubaarheid en doeltreffendheid.
Die kragonderbrekings is “’n jammerte maar te verstane”, gee Matshediso Setai, premierswoordvoerder, toe. Die skuld spruit uit historiese, agterstallige bedrae en huidige, onbetaalde rekeninge, sê sy.
Setai bevestig Mangaung-metro is sedert April 2022 onder ’n Artikel 139(7)-ingryping en volg ’n finansiële herstelplan. Die plan het twee hoofdoelwitte: ’n inkomste-invorderingskoers van 90–95% en streng kredietbeheermaatreëls.
’n Multibelanghebbende taakspan, insluitend verteenwoordigers van die Vrystaatse provinsiale regering, die metro en Centlec, is op die been gebring om die krisis die hoof te bied. “Die taakspan ontwikkel volhoubare betalingsplanne om agterstallige skuld te verminder terwyl huidige rekeninge doeltreffend bestuur word. Gesprekke vorder goed,” sê Setai.
Sy gee die versekering noodsaaklike dienste sal steeds gelewer word en kragopwekkers in al die betrokke owerheidsgeboue word ingespan word om ontwrigting te beperk. Belangrike finansiële stelsels soos Pesal, BAS en Logis werk steeds volstoom om dienslewering te verseker.
Setai sê enige langtermynoplossing sal finansiële herstrukturering verg, veral in die lig van Suid-Afrika se fiskale konsolidasieplanne.
Mamatu herhaal Centlec se verbintenis tot gehaltedienslewering, maar dring daarop aan dat verbruikers hul finansiële verpligtinge nakom.
OFM News/Kekeletso Mosebetsi cg