Central SA
Uitbranding van nege busse in Noordwes ondersoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:06 Tue, 04 Feb 2025
Noordwes-polisie stel ondersoek in nadat nege busse uitgebrand het.
Die presiese oorsaak van die brand Maandag (3/2) op die Moretele-busstaanplek, 70 km vanaf Brits, is nog onbekend, sê Wessels Morweng, die LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoer.
North West Transport Investment (NTI), wat die Northwest Star-busdiens bedryf, het ’n klagte aanhangig gemaak.
Dis nog onduidelik of dit ’n ongeluk of brandstigting was, sê Morweng. “Ons vra die polisie moet dit daadwerklik ondersoek.”
Nege busse van die Northwest Star-busdiens het gebrand. Foto verskaf
’n Week vantevore het 50 busse op Putco-busstaanplekke in Mpumalanga in die slag gebly toe hulle na bewering deur boosdoeners aan die brand gesteek is.
NTI-werknemers het in die feestyd betogings buite die Noordwes-wetgewer in Mahikeng gehou nadat meer as 1 100 NTI-werknemers glo ses maande lank nie betaal is nie.
Die provinsiale regering het intussen ingegryp om te verseker die werkers kry hul salaris en om NTI se bestuur weer op die regte koers te kry.
Die gebrande busse. Foto verskaf
“Ons het onlangs ’n nuwe blaadjie omgeslaan met ons ingryping by die entiteit deur die onstabiele leierskap reg te ruk waaronder dit geruime tyd gebuk gaan,” sê Morweng. “Ons het ook verseker dat werknemers betaal word, soos belowe.”
Die NTI beraam intussen planne om die uitwerking van die brand op pendeldienste in en om Moretele te temper.
Dr. Ntlhopeng Dikobe, die groep se waarnemende, uitvoerende hoof, en die bestuurspan tref maatreëls om die ontwrigting van dienste aan pendelaars in die Moretele Plaaslike Munisipaliteit te beperk.