On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

‘Metropolisie sal koste bespaar’ – Mangaung-burgemeester

───   KEKELETSO MOSEBETSI 12:52 Tue, 04 Feb 2025

‘Metropolisie sal koste bespaar’ – Mangaung-burgemeester | News Article
Mangaung-burgemeester, Gregory Nthatisi, tydens ’n raadsvergadering. Foto: Skermgreep

Mangaung-metro se burgemeester het weer die belangrikheid van ’n metropolisie-eenheid beklemtoon sodat die munisipaliteit minder afhanklik van uitkontraktering sal wees vir misdaadbestryding.

Op ’n raadsvergadering in die metro se hoofkwartier Vrydag (31/1) het Gregory Nthatisi beklemtoon so ’n eenheid strook met pres. Cyril Ramaphosa se opdrag om uitkontraktering te beëindig en buitensporige uitgawes en korrupsie in die metro hok te slaan.

’n Metropolisieafdeling sal die metro op velerlei maniere help, het Nthatisi gesê. “Wanneer ons saam met die polisie werk om misdaad te bestry, help hulle net daardie dag omdat ons hulle moet bespreek.

“Daarna het ons nie die hulpbronne om die vordering te handhaaf nie. Metropolisie sal ’n blywende teenwoordigheid verseker om wet en orde te handhaaf, skuldinvordering te bestuur, handelaars te reguleer en onreëlmatige aktiwiteite te bekamp. Weens die hoë koste van uitkontraktering is dit ’n volhoubare oplossing.”


Pogings om ’n metropolisieafdeling in die sukkelende metro te stig, kry telkens die wind van voor.

In Oktober 2021 het die Nasionale Tesourie die plan van die hand gewys omdat Mangaung se swak finansiële en diensleweringsrekord die plan onuitvoerbaar maak.

In ’n brief aan Sello More, toe waarnemende stadsbestuurder, het Malijeng Ngqaleni van die tesourie gewaarsku so ’n eenheid kon die metro se finansiële probleme vererger. Mangaung het herhaaldelik waarskuwings geïgnoreer om uitgawes te bestuur en werk te maak van basiese dienste soos water en vullisverwydering, het sy gesê.

Mangaung-raadslede woon Vrydag (31/1) ’n vergadering by. Foto: Skermgreep

In Desember 2021 het die hooggeregshof in Bloemfontein die metro se poging verwerp om die beplande polisieafdeling te ontbind.

Twee maande later het die eenheid probleme ondervind toe kandidaatverkeersbeamptes in 2019, wat later na die Wetstoepassingsvaardigheidsprogram (LESP) vir metropolisie oorgeskakel het, in ’n geskil met die metro gewikkel was.

Dié leerlinge het betoog toe hul maandelikse toelaes van R2 500 gestaak is en hulle meegedeel is dat hul kontrakte beëindig is. Volgens anonieme bronne het sommige leerlinge nooit kontrakte onderteken toe hulle na die LESP oorgeplaas is nie, wat onsekerheid in die hand gewerk het.

Tog hou Nthatisi vol ’n metropolisie-eenheid is noodsaaklik vir stabiliteit en vooruitgang op lang termyn. Minder afhanklikheid van uitkontraktering sal koste bespaar, meen hy, en ’n doeltreffender en meer verantwoordbare stelsel skep om korrupsie hok te slaan.

“Ons besef die oprigting van ’n metropolisie-eenheid verg hulpbronne,” sê hy, “maar as ons die koste van uitkontraktering vergelyk met die stigting van ’n eie eenheid, is dit duidelik dat ons op lang termyn beter daaraan toe sal wees.”

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.