Central SA
Bloemfonteinse meisie herstel goed ná operasie in Amerika─── ZENANDE MPAME 13:25 Mon, 03 Feb 2025
’n Sewejarige meisie van Bloemfontein sal in die St. Jude-kindernavorsingshospitaal in Memphis, Tennessee, bly totdat sy ten volle ná twee operasies herstel het.
Janique Venter (7) is Woensdag (29/1) suksesvol geopereer toe medici ’n ganglioneuroomgewas aan die regterkant van haar nek verwyder het.
In die eerste operasie die vorige dag is haar regterslagaar permanent gesluit om te verseker dat haar linkerslagaar genoeg bloed aan haar brein verskaf. Die volgende dag het ’n span dokters ’n 21 uur lange operasie uitgevoer om die gewas uit haar nek te verwyder.
“Die oggend toe sy in die operasiekamer ingeneem word, het ek gekniel en so hard gehuil en gebid,” sê Nadine Mukheibir, Janique se ma. “Haar pa was baie emosioneel, en ons het aanhoudend gebid. Diep binne ons het ons geweet ons dogtertjie sal herstel.”
Ná die operasie het Janique se gesig erg opgeswel, wat ’n noodoperasie nodig gemaak het om die wond oop te maak en te bepaal wat skort. Alles het egter normaal gelyk.
“Toe sy ná die operasie uitkom en ek haar vir die eerste keer sien, was sy so pragtig sonder daardie gewas in haar nek,” sê Mukheibir. “Ek het van blydskap gehuil en uitgeroep: ‘Dankie, Jesus!’”
Haar geliefdes is dankbaar teenoor die chirurge en hospitaalpersoneel wat haar lewe gered het. Fase 3-neuroblastoom, ’n kanker wat meestal in die byniere voorkom, maar ook in die maag, bors, nek, kop en ruggraat kan ontwikkel, is op ses maande by Venter gediagnoseer.
In Maart 2023 het ’n biopsie gewys die gewas is nie meer kankeragtig nie, maar dat die verwydering daarvan steeds riskant sou wees. In Desember is haar ouers, Mukheibir en pa Jacques Venter, meegedeel dat ’n span dokters in Memphis bereid sou wees om die gewas te verwyder.
Die gesin het visums gereël en na Tennessee gevlieg ter voorbereiding van die operasie. Hulle bly in die hospitaal se verblyf vir jong pasiënte se familielede, vertel Mukheibir.
“Terwyl sy nou in die waakeenheid is, kan ek en haar pa naby haar slaap en by haar wees. Sy sal in die hospitaal bly totdat sy ten volle herstel het. Ons het baie gebede nodig vir haar herstel.”
Janique het ’n Facebook-blad, met daaglikse inskrywings, waar mense haar reis en herstel kan volg.
OFM Nuus/Zenande Mpame cg/mvh