On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vermiste Bloemfonteinse tiener gevind; twee ander steeds vermis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:46 Mon, 03 Feb 2025

Vermiste Bloemfonteinse tiener gevind; twee ander steeds vermis | News Article
Mary-Ann Nel. Foto verskaf

’n Meisie van Bloemfontein is gevind nadat sy in Desember as vermis aangemeld is.

Nog ’n meisie van hier word egter steeds vermis. Die polisie vra die gemeenskap moet help om haar op te spoor. Albei is Woensdag (29/1) as vermis aangemeld.

Motswaki Cebe (15) is Sondag (2/2) gevind, sê kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Die besonderhede oor die omstandighede van haar verdwyning en waar sy haar bevind het, is nie bekend gemaak nie.

Mary-Ann Nel (17) word steeds vermis en is laas op 17 Januarie in die woonbuurt Willows in Bloemfontein gesien. “Mary-Ann is as vermis aangemeld deur die Parkweg-polisie. Ons weet steeds nie watter klere sy aangehad het ten tyde van haar verdwyning nie,” sê Earle.


Speurders volg aktief alle potensiële leidrade op, sê sy. Sy is moontlik nog in Bloemfontein.

Enigiemand wat weet waar sy haar bevind, kan sers. Thapelo Teleko by 082 455 6081 kontak.

Intussen word Lindiwe Skhosana, ’n tienermeisie van Heilbron, al langer as ’n maand vermis.

Sy was op 30 Desember alleen tuis saam met drie ander kinders. “Toe haar ma van die dorp af terugkom, was Skhosana weg. Die ander kinders het gesê sy het gaan bad en het die huis verlaat sonder om vir iemand te sê waarheen sy gaan,” sê provinsiale polisiewoordvoerder Mahlomola Kareli.

Sy het ’n swart denim, ’n blou baadjie en wit Puma-tekkies aangehad ten tyde van haar verdwyning.

Enigiemand wat weet waar Lindiwe haar bevind, kan konst. Selloane Masa van Heilbron se speurafdeling by 062 095 5711 nader.


In Noordwes word Tracy-Lee Roos vermis nadat sy verlede week laas in die Klerksdorp-gebied gesien is . Sy het ’n swart “crop top”, kakiebroek en wit tekkies aangehad.

Earle wil die publiek herinner dat daar geen wagtydperk is om ’n vermiste mense aan te meld nie. Maak so sodra iemand vermis word:

• Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.

• Gee ’n volledige beskrywing van die vermiste mens se laaste verblyfplek, klere wat hulle gedra het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.

• Voltooi en onderteken ’n SAPD 55(A)-vorm. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en vrywaar die polisie om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.

• Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede, en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word.

• As ’n vermiste mens gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. ’n SAPD 92-vorm moet voltooi word om die Buro vir Vermiste Persone in kennis te stel dat die vermiste se verslag uit die sirkulasiestelsel gehaal kan word.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.