On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Vier van Stilfontein Dinsdag in hof vir moord op Vrystaatse polisieman

───   14:56 Mon, 03 Feb 2025

Vier van Stilfontein Dinsdag in hof vir moord op Vrystaatse polisieman | News Article
Foto ter illustrasie: Pixabay

Vier verdagtes, wat in Noordwes aangekeer is, kom Dinsdag (3/2) voor in die landdroshof op Ficksburg vir die moord op ’n Vrystaatse polisieman.

Die Valke het die verdagtes (tussen 34 en 36) Saterdag (1/2) in hegtenis geneem, sê kol. Katlego Mogale, Vrystaatse Valke-woordvoerder, ná die moord op konst. Justice Sephooa van Ficksburg se misdaadintelligensie-eenheid op 21 Januarie. 

Twee onbekende mans het dié Dinsdag na die konstabel se woonplek gegaan, waar die een hom twee keer geskiet en albei toe op die vlug geslaan het.

Die vier Lesotho-burgers, wat onwettig in die land is, is aangekeer ná ’n deeglike ondersoek deur die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad saam met die taktiesereaksie-eenheid van Noordwes en die nasionale ingrypingseenheid.

Na Bethlehem gebring

Hulle is opgespoor en in hegtenis geneem op die myndorp in Noordwes wat pal in die nuus is oor onwettige mynboubedrywighede en toe Bethlehem toe gebring. Al vier word aangekla van moord, maar die Valke wei nie uit oor die ander twee se betrokkenheid nie.

Lt.genl. S.G. Lebeya, nasionale hoof van die direktoraat vir die voorkoming van prioriteitsmisdade, spreek sy waardering uit vir die gesamentlike poging en “die professionele benadering van die span om die oortreders aan die kaak te stel”.

In die 2023/2024-boekjaar is 111 polisiebeamptes in Suid-Afrika om die lewe gebring, amper 21% meer as die 92 in die vorige boekjaar, het News24 in November berig. Die slagoffers was aan sowel as van diens af en is die hoogste syfer in vyf jaar. Amper 40% van die slagoffers is in Kwa-Zulu-Natal (22) en Gauteng (21) vermoor.

Vir vuurwapens vermoor

Die toename in polisiemoorde is “taamlik kommerwekkend”, sê Richard Mambolo, Popcru-woordvoerder. “Wanneer hulle die huis verlaat, is baie beamptes nie seker of hulle sal huis toe kom of nie. Dit beïnvloed hul moraal.

“Talle beamptes word doodgemaak, en die grootste deel van hulle is nie aan diens wanneer hulle doodgemaak word nie. Dit hou verband met hul werkomgewing.”

Hy sê ook wanneer beamptes nie aan diens is nie, weet die gemeenskap hulle is polisiebeamptes wat staatsvuurwapens by hulle het. “Dit beteken daar word dikwels op hulle toegeslaan vir dié wapens.”

Weens hul (ontoereikende) vergoeding kan polisiebeamptes nie maatreëls bekostig om hulleself te beskerm nie.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.