Central SA
Dit gaan ‘dan beter en dan slegter’ met klein Tennique─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:42 Mon, 03 Feb 2025
Dit gaan soms beter en soms slegter met die enigste oorlewende kind van die bosting by Bloemfontein waarin drie kinders hul lewe verloor het.
Tennique Joubert het Woensdag (30/1) vyf dae ná die ongeluk haar oë oopgemaak. Sy was onder verdowing weens bloeding op die brein.
Die sesjarige het Vrydagaand (/1) ’n operasie ondergaan in Mediclinic Bloemfontein, waar dokters haar milt verwyder het. Ná die prosedure is sy na die Pelonomi-hospitaal oorgeplaas om daar aan te sterk.
‘Sy het ook baie moeg gelyk’
Haar oupa Cornelius Barry sê sy kleindogter het Saterdag (1/2) gereageer toe hy met haar praat. “Haar oë was lewendig, en sy het rondgekyk as ons vir haar iets wys. Jy kon sien sy weet ons is daar, maar teen Sondag het dit gelyk of sy nie weer reageer nie. Sy het ook baie moeg gelyk.”
Barry en sy vrou, Madelein, wat Tennique versorg, besoek haar elke dag in die hospitaal. “Ons ry elke dag van Maselspoort af. Eers laai ons haar pa in Fauna op, waarna ons dan hospitaal toe ry, haar pa gaan aflaai en dan huis toe ry … finansieel het die situasie ’n beduidende impak op ons.”
Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charné van der Merwe
Barry hoop dat hulle binne die volgende paar dae meer duidelikheid sal kry oor Tennique se situasie. “Die dokters kan nog nie bepaal of sy breinskade opgedoen het nie.”
Die ongeluk het die lewens van twee broers, Ryan (6) en Ayden (8) Smit, asook hul niggie Leané van Papendorp (6) geëis. Leané se ma, Adri Jonck, het met die vier kinders die oggend skool toe gery toe ’n Hilux-bakkie in haar Chevrolet Spark vasry op die kruising van die N8 en Krugerlaan, by Aljo’s Superspar.
‘Hof moet nog besluit neem’
Die seuns se ma, Yolandé Smit, is Jonck se suster. Jonck het vroeër gesê al wat sy kan onthou van die ongeluk is dat sy besig was om te draai toe sy skielik met haar gesig vol bloed op die teerpad wakker word.
Die bestuurder van die bakkie het teen die bestuurderskant van die Spark vasgery. Ryan en Leané is op slag dood, terwyl Ayden later in die Busamed-hospitaal dood verklaar is nadat sy hart twee keer gaan staan het.
Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit
’n Gedenkdiens is Saterdag (1/2) in die NG kerk Bloemfontein-Noord (Klipkerk) vir die Smit-boeties en Leané gehou.
Leané se pa, Herman van Papendorp, is ’n polisiebeampte in De Aar en die seuns se pa, Martin Smit, is bedryfbestuurder van die vakansieoord en konferensiesentrum op Maselspoort.
Volgens kapt. Lorraine Earle, provinsiale woordvoerder, is niemand nog in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort. “Niemand sal aangekla of in hegtenis geneem word totdat die hof ’n besluit neem nie.”