On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

South Africa

Valke soek nóg verdagtes ná vrou glo eie ‘ontvoering’ reël

───   15:27 Thu, 30 Jan 2025

Valke soek nóg verdagtes ná vrou glo eie ‘ontvoering’ reël | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Die Valke in die Oos-Kaap hoop om binnekort nóg verdagtes aan te keer ná die inhegtenisneming van ’n vrou, wat na bewering voorgegee het om ontvoer te word.

Die verdagte het Woensdag (29/1) vlugtig voortgekom in die Oos-Londen-landdroshof nadat die Valke se plaaslike ontvoeringstaakspan haar die vorige dag in hegtenis geneem het, sê lt.kol. Avele Fumba. Sy en haar medepligtige het na bewering die kamma-ontvoering beplan om haar familie en kêrel af te pers om ’n losprys te betaal. 

Haar bekommerde kêrel het haar “ontvoering” op 23 Oktober by die polisie aangemeld nadat hy ontstellende foto’s en video-opnames ontvang het van hoe sy vasgebind en haar mond met kleeflint toegeplak is, vertel Fumba. Hy het kontak gemaak met sy meisie se suster, wat ook dié ontstellende boodskap van dieselfde nommer ontvang het.

Skokkende ontdekking

Nadat die Valke die ondersoek oorgeneem het, het hul ontvoeringstaakspan ’n optrede gereël wat tot ’n skokkende ontdekking gelei het: Die sogenaamde slagoffer was na bewering deel van ’n bedrogspul.

“Nog ondersoeke het aan die lig gebring dat die vrou haar eie ontvoering beplan het en saam met haar medepligtige ’n plan beraam het om ’n losprys uit haar geliefdes te kry en dit (onder hulle twee) te verdeel,” sê Fumba.

Haar inhegtenisneming Woensdag word as ’n deurbraak in die saak beskryf. Sy het die volgende dag haar eerste hofverskyning gemaak.

Meld gevalle aan

Die Valke verwag om binnekort nóg verdagtes aan te keer. Hulle vra intussen dat enigiemand met inligting oor soortgelyke gevalle na vore kom. Hul identiteit sal streng vertroulik gehou word.

“Die vermorsing van staatshulpbronne op versinde misdade sal nie geduld word nie,” waarsku genl.maj. Mboiki Obed Mgwenya. “Enigiemand wat die stelsel vir persoonlike gewin misbruik, sal met die volle mag van die reg te doen kry.”

Sosialemediagebruikers het begin vandeesmaand woedend gereageer toe dit aan die lig kom dat ’n beïnvloeder se ontvoering in Nigerië ’n versinsel was, berig The Economic Times.

Die beïnvloeder Victoria Rose is spyt sy het voorgegee sy is ontvoer. Foto: Instagram

Victoria Rose, wat op sosiale media as Woah Vicky bekendstaan en 3,7 miljoen volgers op Instagram het, het ontstellende boodskappe op X en ander platforms geplaas waarin sy voorgegee het dat sy ontvoer is.

Nadat sy moeg geraak het vir die “speletjie”, het sy tydens ’n regstreekse uitsending op Instagram erken: “Ons het meegevoer geraak deur die grap. Ek drink of gaan nie klubs toe nie; so dis hoe ek my vermaak.”

Ontvoering ‘snaaks’

Sy het toegegee die voorval was ’n “misplaaste” poging om pret te hê, en verveeldheid daarvoor verkwalik. “Die Bybel sê lag is goed vir die siel. Ek wou gelag het, en dis hoe ek dit snaaks gevind het.”

Victoria Rose het erken ontvoering is nie ’n grap nie en volle verantwoordelikheid aanvaar vir haar optrede. “Ek is jammer as ek enigiemand hierdeur seergemaak het.” 

Sy het ook verskoning gevra op X. “Dit hou gevolge in as ’n mens iets nie deurdink nie, en nou betaal ek daarvoor.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.