Central SA
FAK vier Vrystaat se topmatriek van Bethlehem─── 15:44 Mon, 27 Jan 2025
’n Nasionale kultuurorganisasie het die Vrystaat se voorste matrikulant op haar tuisdorp in die Oos-Vrystaat vereer.
Die FAK se Vrystaatse kultuurnetwerk het dié provinsie se toppresteerder, Susan Bender van die Bethlehem Voortrekker Hoërskool, beloon nadat sy die hoogste gemiddelde persentasie, 96%, in die 2024-matriekeksamen behaal het.
Pieter-Ben Roos, FAK-veldtoghoof, het Saterdag (25/1) in die Bethlehemse museum ’n geskenkpak met geskenkbewyse, ’n FAK-trofee en sertifikaat aan haar oorhandig.
Susan en haar gesin buite die Bethlehemse museum, waar sy vereer is (van links): pa Arnold, kleinboet Koot, Susan en ma Marinda Bender. Foto verskaf
Dis vir die FAK ’n voorreg om haar harde werk en toewyding te eer en te vier, sê Marianne Pouwels, FAK-mediabeampte. “Susan se prestasie is … nie by die onlangse prestigegeleentheid van die (provinsiale) departement van onderwys erken nie, ’n besluit wat ons by die FAK glo nie die omvang van haar sukses verminder nie.”
Susan is nie genooi na die mediakonferensie op Dinsdag 14 Januarie waar die departement die voorste matrieks van 2024 aangekondig het. Dit is op baie kort kennisgewing gehou en haar skool kon nie betyds bereik word nie, het Howard Ndaba, onderwyswoordvoerder, gesê.
Pieter-Ben Roos van die FAK en Susan Bender by die Bethlehemse museum. Foto verskaf
Die departement het “onvoorwaardelik” verskoning gevra en beklemtoon dat hulle “verskriklik trots” op haar is. “Ons ondersteun haar toekomsplanne. Sy is ’n verteenwoordiger van die Vrystaat en ons is ongelooflik trots op haar prestasies.”
Bender het onderskeidings in al sewe haar vakke behaal Sy was ook die onderhoofdogter. Sy is wel genooi na die provinsiale onderwysdepartement se Welgedaan-geleentheid drie dae ná die bekendmaking van die uitslae.
Dié toegewyde hokkiedoelwagter, debatteerder én leier glo buitemuurse aktiwiteite het vir haar broodnodige vaardighede geleer om haar akademiese doelwitte te bereik.
Susan Bender spreek die Welgedaan-geleentheid vir 2024 se matrieks in Bloemfontein toe. Foto verskaf
Sy sê ’n wiskundevraestel lyk aansienlik minder gevaarlik as ’n hokkiebal wat teen 90 km/h op jou afpyl. Haar boodskap aan vanjaar se matrieks is een van deursettingsvermoë, betrokkenheid en balans. “Moet nooit (moed) opgee nie. Doen elke dag jou deel, en jy sal die vordering sien en die vrugte pluk.”
Susan en vier van haar keusevakonderwyseresse – Anandhi Taylor (lewenswetenskappe), Elna de Waal (wiskunde), Zeldi Odendaal (fisiese wetenskappe) en Ruzel Vorster (rekeningkunde) – het onlangs ’n ontbytseminaar van dr. Mamiki Maboya, LUR vir onderwys, bygewoon. Strategieë vir sukses deur onderwysers en leerders is voorgehou.
Susan beplan om vanjaar medies aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer.