On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Akademia se kampusdroom oor jaar of drie werklikheid

───   14:58 Tue, 28 Jan 2025

Akademia se kampusdroom oor jaar of drie werklikheid | News Article
Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton. Foto verskaf

Akademia beplan om in 2028 eerstejaarstudente te verwelkom op sy nuwe wêreldklaskampus in Pretoria.

Dié ontwikkelingsprojek geskied in samewerking met die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton, wat sedert 2019 voltyds aan die projek werk. 

Die kampus, waaraan bouwerk na verwagting in 2026 begin, sal voorsiening maak vir 5 000 voltydse voorgraadse en nagenoeg 1 500 nagraadse studente.

‘Grondwerk lê die grondslag vir suksesvolle bouwerk

Die volgende drie jaar sal deurslaggewend wees, sê Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton. Drie prioriteitsgebiede oor hierdie tydperk is ontwerpsontwikkeling, grootskaalse grondwerk en kapitaalwerwing.

Tydens vanjaar se ontwerpfase word die konsepontwerp in fynere besonderhede uitgewerk om ten volle voorbereid te wees op die konstruksiefase.

Grondwerk lê die grondslag vir suksesvolle bouwerk en sal met groot sorg en akkuraatheid uitgevoer word. “Hierdie wisselwerking sal help om toekomstige uitdagings tydens die konstruksieproses uit die weg te ruim,” sê Schalekamp.

Die kampus sal voorsiening maak vir 5 000 voltydse voorgraadse en nagenoeg 1 500 nagraadse studente. Foto verskaf

Kanton het genoeg geld om die koste van die ontwerpsontwikkeling en die grondwerk in 2025 te bestry, maar nóg kapitaal sal gewerf moet word voor die bouwerk kan begin. Daarvoor word die Toekomsbouerveldtog gevoer.

Die kapitaal vir die projek sal hoofsaaklik as beleggings en skenkings in die gemeenskap gewerf word. Kanton bied mense die geleentheid om by wyse van finansiering- en belegginggeleenthede betrokke te raak.

“Ons is in ’n privaat kapitaalwerwingsfase,” sê Schalekamp, “maar gedurende Meimaand sal die groter gemeenskap die geleentheid kry om self in die projek te belê. Hierdie belegging sal aan betrokkenes méér as net ’n finansiële opbrengs verseker; dit skep ook ’n kultuurdividend.

Dié ontwikkelingsprojek geskied in samewerking met die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton. Foto verskaf

“Elke rand sal help om ’n toekoms te bou waarin Fonties (studente wat aan Akademia studeer) hul potensiaal in hul moedertaal sal kan verwesenlik en só ’n blywende nalatenskap vir toekomstige geslagte sal laat.”

Belangstellendes kan ook by wyse van die Akademia-skenkingsfonds ’n bydrae lewer om geriewe en infrastruktuur wat nie kommersieel van aard is nie, te befonds.

As ’n gemeenskapsinstelling sonder winsbejag is Akademia afhanklik van skenkings om dié instelling uit te bou en verder te ontwikkel. Só kan hy vir die matriekklas van 2027 “’n splinternuwe kampus open waar hulle die toekoms doelgerig tegemoet kan stap”.

‘Landwye netwerk met verskeie sentrums, maar ook twee kampusse in Centurion’

Akademia het in 2011 begin en ses jaar later akkreditasie as Afrikaanse hoëronderwysinstelling by die departement van hoër onderwys en opleiding gekry. Intussen het dit gegroei tot ’n landwye netwerk met verskeie sentrums, maar ook met geleenthede vir voltydse studie op sy twee kampusse in Centurion.

Van die sentrums vir nauurse studie by interaktiewe sentrums is in Bloemfontein, Pretoria, George, die Paarl en Somerset-Wes.

OFM Nuus/Gerda Niemann mvh 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.