Central SA
‘Hy staan julle by’, hoor ouers op gedenkdiens vir Vissies-leerders─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:24 Tue, 28 Jan 2025
Hy wou hê elke kind by die skool moes Dinsdag (28/1) ’n roomys kry, want dit is wat sy twee seuns sou wou gehad het.
Hulle het altyd seker gemaak om ekstra lekkergoed in te pak om by die skool met hul vriende te deel, het ’n bedroefde Martin Smit vertel by die Laerskool Dr. C.F. Visser se gedenkdiens vir drie van hul leerders.
Albei sy en Yolandé se seuns het Vrydagoggend in ’n botsing op die N8 oos van Bloemfontein gesterf.
Ayden (8) en Ryan (6) se niggie, Leané van Papendorp (8), het ook haar lewe verloor, terwyl haar ma, Adri Jonck, die boeties se tannie en die bestuurder van die Chevrolet Spark waarin hulle van Maselspoort na hul skool in Estoire op pad was, ernstige beserings opgedoen het.
Die leerders het blomme by Ryan, Ayden en Leané se foto's gesit. Foto: Charné van der Merwe
Jonck is later die dag van die ongeluk uit die Pelonomi-hospitaal ontslaan. Ryan en Leané is op slag dood, terwyl Ayden met ernstige beserings na die Busamed-hospitaal gehaas is, waar sy hart twee keer gaan staan het voordat hy dood verklaar is.
Die vierde leerder, Tennique Joubert (6), sterk in Pelonomi aan nadat sy Saterdag ’n operasie ondergaan het. Haar oupa, Cornelius Barry, het Dinsdag by die gedenkdiens gesê dat hul kleindogter nie meer aan masjiene gekoppel is nie en dat die dokters nou wil hê sy moet self wakker word.
Tennique Joubert. Foto: Facebook/Dr. C.F. Visser Primêre Skool
“Daar was ’n bietjie bloeding op die brein, maar die dokters sê dit is nie meer daar nie. Sy het steeds swelling op die brein en is aan ’n ventilator gekoppel. Sodra sy wakker word, sal die dokters die pad vorentoe bepaal.”
Die skoolsaal was Dinsdag gepak met vriende, familie, ouers en al die leerders toe hulle bymekaargekom het vir die gedenkdiens van die drie leerders.
Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charné van der Merwe
Ds. Bertus Smit het die diens gelei. Hy het die ouers uit Psalm 34 getroos deur hulle te herinner aan God se onwrikbare liefde en hulp vir diegene wat op Hom vertrou, en hulle verseker dat Hy ondersteuning sal bied in tye van nood.
Ná die diens het almal na buite beweeg waar drie roosbome ter nagedagtenis aan Ayden, Ryan en Leané deur hul klasonderwysers geplant is.
Elke leerder het toe ’n roomys gekry, moontlik gemaak deur een van Martin se vriende, Angelo Grobler, wat by ’n roomysmaatskappy werk. Grobler het vir Martin gevra hoe hy kon help in hierdie moeilike tyd. Martin het gesê dat sy kinders altyd wou gee. Selfs noudat hulle nie meer daar is nie, sou hulle iets vir die ander kinders wou gegee het.
Die kinders was Vrydag omstreeks 07:00 op pad skool toe, toe ’n bakkie met ’n swaar gelaaide sleepwa op die kruising van die N8 en Krugerlaan in hulle vasgery het. Die bestuurder het vermoedelik die rooi robot verontagsaam.
Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit
Al wat sy van die ongeluk kan onthou, vertel Jonck, is dat sy besig was om te draai, en oomblikke later het sy wakker geword op die teerpad met ’n gesig vol bloed. “As ’n ma weet ek nie hoe ek hierdeur gaan kom nie. Ek is gebroke. Die fisieke pyn is niks in vergelyking met die pyn in my hart nie.”
Die polisie sê intussen by navraag die ondersoek duur voort terwyl hulle tersaaklike inligting, bewyse en spesialisverslae bymekaarmaak. “Sodra dit afgehandel is, sal die dossier aan die direkteur van openbare vervolging voorgelê word vir ’n besluit, wat die volgende stappe sal bepaal,” sê kapt. Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Marli Visser, Ryan Smit se juffrou, plant een van die roosbome. Foto: Charne van der Merwe
Sy vra dat die gemeenskap die ondersoekspan tyd en ruimte sal gun om hul werk sonder bespiegeling af te handel. “Dis ’n sensitiewe saak, en ons doen ’n beroep op enigiemand met relevante inligting om na vore te kom en te help.”
’n Saak van strafbare manslag is by die Navalsig-polisiekantoor geopen.