On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

‘Sinkgat’ in Klerksdorp blitsvinnig herstel

───   10:55 Tue, 28 Jan 2025

‘Sinkgat’ in Klerksdorp blitsvinnig herstel | News Article
Sosialemediagebruikers het nie op hulle laat wag met spitsvondige kommentaar nie. Foto verskaf

Hokaai, Klerksdorpers! Dit was toe nie ’n sinkgat nie.

“Dit was net ’n gewone gebarste pyp wat die gat veroorsaak het, wat maar gebeur wanneer ’n pyp bars,” sê Gerhard Strydom, DA-wyksraadslid.

Hy het OFM Nuus se navraag gereageer nadat foto’s van ’n man, wat halflyf in ’n gat vol water in ’n straat in Klerksdorp staan, opslae gemaak het op sosiale media. Op ’n foto kan ook gesien word hoe ’n motor se voorwiel in die gat wegsink.

‘Pyp is herstel, asook gat’

Die gat het op die hoek van De Waal- en Prellerstraat in die woonbuurt La Hoff ontstaan, waarna dit afgesper en motoriste gewaarsku is. “Die bars is herstel, asook die gat wat dit veroorsaak het,” sê Strydom.

Foto’s van ’n man, wat halflyf in ’n gat vol water in ’n straat in Klerksdorp staan, het opslae gemaak op sosiale media. Foto verskaf

“Ek dink die ding het ’n verkeerde wending geneem toe dit as ’n sinkgat beskryf is.”

Teen Dinsdagoggend (28/1) het munisipale werkers van Matlosana die straat weer oopgegrawe om ’n lengte pyp oor die padkruising te installeer, vertel Strydom. “Dis om probleme in die toekoms te voorkom.”

‘Dis ’n jacuzzi’

Sosialemediagebruikers het nie op hulle laat wag met spitsvondige kommentaar nie. “Meneer, jy kan nie daar swem nie,” waarsku Phaladi PoCz Molebatsi.

“Dis ’n jacuzzi,” was Modupi Nteu se opmerking, terwyl Dolf Mostert se voorstel was: “Plant ’n boom in die gat.”

Munisipale werkers van Matlosana het die straat oopgegrawe om ’n pyp oor die padkruising te installeer. Foto verskaf

“Ek het pas daar verbygegaan … ek het nie gedink dit is só diep nie,” sê Molaba Athrasis Seta. “Die munisipaliteit se mense maak dit nou reg.”

Nie almal het dit amusant gevind nie. “Jy sal nooit deur die nuttelose munisipaliteit betaal word vir skade wat aan jou voertuig aangerig is nie,” was Lebogang Amun-Ra Taola se kommentaar.

‘Slaggate ’n nagmerrie’

“Ek hoop as die pyp en die gat wat dit veroorsaak het, reggemaak is, kyk hulle ook na die slaggate in La Hoff. Tjrr … dis sowaar ’n nagmerrie,” sê Kelebohile Mota.

Eddie Evert Pozyn wil by wetstoepassers weet: “Herinner my, wat is die punt van padwaardig(heid) as die pad so lyk?”

“Niks snaaks nie; die hele Klerksdorp se paaie lyk so!” sê Danell Grobler, en Tsheption Mojela S’tshepana stem saam: “As dit nie slaggate is nie, is dit verkeersligte.”

Die hele Klerksdorp se paaie lyk so, sê talle. Foto verskaf

In ’n soortgelyke voorval verlede week in La Hoff het Midvaal-water ingespring om ’n lekkasie op die hoek van Lautzlaan en Jansenstraat te herstel, nadat die lekkasie in ’n “riviertjie” verander het.

DA-rdl. Jackie Basson sê hul koukus in Matlosana het by die munisipaliteit gepleit om hul sake in orde te kry en die stad se waterafdeling uit te sorteer. “Die munisipaliteit het geen voertuie nie, en boonop het hulle begin staak omdat hulle nie vir oortyd betaal word nie.

“Midvaal Water het tot die redding gekom om die pyp te herstel en meer waterverlies te voorkom.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.