On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

South Africa

Sanparke ondersoek of olifant oupa binne of buite wildtuin doodtrap

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:12 Mon, 27 Jan 2025

Sanparke ondersoek of olifant oupa binne of buite wildtuin doodtrap | News Article
Sanparke versoek mense om geen foto’s of video’s van die voorval of die slagoffer te deel nie. Foto: iStock

Die polisie in Mpumalanga ondersoek die voorval waarin ’n man deur ’n olifant doodgetrap is terwyl hy blykbaar sy kleinkinders wou beskerm.

Shaik Adam Shabir Ammed (59) van Mpumalanga is Saterdagmiddag by die Malelane-hek van die Krugerwildtuin deur ’n olifant doodgetrap, sê lt.kol. Jabu Ndubane, ’n polisiewoordvoerder. Hy is op die toneel dood verklaar.

“’n Voorlopige verslag dui daarop dat twee van Ammed se kleinkinders, ’n meisie (5) en ’n seun (11), na bewering foto’s en video’s wou neem van ’n olifant wat in die wildtuin rondgedwaal het, nie ver van die hek af nie.”

Dis nog onbekend presies hoe laat die voorval plaasgevind het, en ook óf dit in die Krugerwildtuin of net buite die Malelane-hek plaasgevind het.

Wou sy kleinseun help

Ndubane sê die olifant het Saterdag (25/1) skielik op die groep besoekers afgestorm. Die seun het sy jonger suster gegryp, en albei het na hul oupa gehardloop.

“Toe hy die gevaar sien, het Ammed ook begin hardloop. Die seun het egter geval, en die olifant het hom met sy slurp aangeval.” In ’n desperate poging om sy kleinseun te help, is Ammed deur die olifant vertrap, wat toe die veld ingestap het.

Die polisie en nooddienste is vinnig na die toneel ontbied, sê Ndubane. “Die seun het beenbeserings opgedoen en ontvang mediese behandeling, terwyl die meisie ongedeerd is.”

Geen foto’s van voorval mag geplaas word

Ike Phaahla, Krugerwildtuin-woordvoerder, het die sterfgeval bevestig en gesê dat die voorval naby die Krokodilrivier by die Malelane-hek plaasgevind het. Geen nadere besonderhede oor die presiese gebeure kan nog bekendgemaak word nie.

“Ons wil ondersoekers die tyd gee wat hulle nodig het om die voorval te ondersoek,” sê Phaahla. “Sanparke betuig ons innige meegevoel met die familie en vriende van die oorledene.”

Weens die sensitiwiteit van die saak het Sanparke ook die publiek versoek om geen foto’s of video’s van die voorval of die slagoffer te deel nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.