South Africa
Drie mans swaar gestraf in Limpopo vir renosterstropery─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:09 Mon, 27 Jan 2025
Drie mans is swaar vonnisse opgelê nadat hulle skuldig bevind is aan stropery.
Sam Khosa (33) en Odis Maluleke (49) is Maandag (27/1) elk 22 jaar tronkstraf opgelê, terwyl Benett Silahle (39) vier jaar tronkstraf opgelê is, sê Monica Nyuswa, NVG-streekwoordvoerder in Limpopo.
“Die skuldigbevindings sluit in aanklagte van betreding, sameswering om ’n misdryf te pleeg, die dood van ’n renoster, die besit van ’n vuurwapen en die besit van gevaarlike wapens. Odis Maluleke is ook gevonnis vir die oortreding van die Immigrasiewet.”
Die renosterstropers het hulle voorgedoen as toeriste. Foto ter illustrasie: Canva
Op 15 Februarie 2019 het ’n senior veldwagter inligting ontvang oor Phillip Gumede, ’n oudveldwagter wat nou in die park se gimnasium gewerk het. Gumede het na bewering die onwettige toegang moontlik gemaak van twee voornemende stropers, wat hulle as toeriste voorgedoen het.
Volgens Nyuswa het Gumede glo bedrieglike permitte gereël om die “toeriste” toegang te verleen. “Toe hulle binne is, het hulle ’n renoster doodgemaak voordat hulle na die gimnasuim teruggekeer het om ander klere aan te trek.”
Die senior veldwagter het later gesien hoe Gumede saam met Khosa en Maluleke terugkeer na die gimnasium, terwyl Silahle apart opgedaag het om hulle te kom haal. “Die veldwagter het die polisie in kennis gestel, wat toe die betrokke voertuie deursoek het.”
Videomateriaal en DNS-ontleding
Wetstoepassers het glo tydens die soektog vars renosterhorings, ’n jaggeweer, messe en ’n vuurwapen met ’n uitgewis reeksnommer ontdek.
Die vier individue is in hegtenis geneem en aanvanklik is borgtog toegestaan, maar Gumede is oorlede voor die verhoor begin het, wat Khosa, Maluleke en Silahle in die hof gelaat het. Volgens Nyuswa het al drie het onskuldig gepleit op die aanklagte.
“Die staatsaanklaer, Lot Mgiba, het geloofwaardige bewyse van die senior veldwagter aangebied, insluitend videomateriaal en DNS-ontleding, wat bewys het dat die koeël wat in die renoster gevind is, afgevuur is uit die vuurwapen wat uit die beskuldigde se voertuig gevind is.”
Langdurige gevolge van stropery
Nyuswa sê die hof het die individuele rolle wat die beskuldigde gespeel het tydens die pleging van hierdie misdrywe, in ag geneem by die bepaling van gepaste vonnisse. “As deel van hul vonnisoplegging is al drie onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.”
Sy beklemtoon stropery hou ’n ernstige gevaar vir bedreigde spesies en biodiversiteit inhou, met langdurige gevolge. “Die NVG beklemtoon die kritieke belangrikheid daarvan om oortreders aanspreeklik te hou om wild vir toekomstige geslagte te beskerm.”
OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh