Central SA
Drie in hof ná polisie gekaapte vragmotor by Hartbeespoort opspoor─── MORNÉ VAN ROOYEN 07:30 Mon, 27 Jan 2025
Drie verdagtes kom na verwagting Maandag (27/1) voor in die landdroshof op Brits nadat die polisie beslag gelê het op ’n gekaapte vragmotor en vrag ter waarde van sowat R2 miljoen.
Die deurbraak is behaal nadat misdaadintelligensie in die Bojanala-distrik inligting ontvang het oor die bedrywighede van ’n groep vermeende vragmotorkapers, sê kol. Adele Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.
’n Span bestaande uit Brits se trio-taakmag, die operasionele koördineringsentrum en misdaadintelligensie het enkele dae lank ’n bergingsplek op Rietfontein naby Hartbeespoortdam dopgehou.
Twee verdagtes lê langs die onwettige seinblokkeerder. Foto: SAPD
Donderdagmiddag het hulle gesien hoe ’n vragmotor met ’n sleepwa, vergesel van ’n Toyota-bakkie, die perseel binnery. “Nog waarnemings het gelei tot die inhegtenisneming van drie verdagtes, wat betrap is waar hulle ’n vurkhyser gebruik om goedere van die vragmotor af te laai,” sê Myburgh.
Beamptes het die perseel deursoek en afgekom op ’n seinblokkeerder. Sulke toestelle is onwettige kragtens die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies. Dit word gebruik om kommunikasieseine, soos dié van GPS-opspoorders, te blokkeer sonder magtiging.
Die vragmotor is in Gauteng met ’n kosbare vrag gekaap. Foto: SAPD
Die wetstoepassingspan het hard gewerk om die regmatige eienaar van die sleepwa en vrag op te spoor nadat hulle vasgestel het dis vroeër vandeesmaand gekaap in Olievenhoutbosch, ’n township tussen Midrand en Centurion.
Die verdagtes (20, 24 en 36) het die naweek in polisieaanhouding deurgebring tot hul eerste hofverskyning vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere Maandag in die landdroshof.
Wetstoepassers het gesukkel om die eienaar in die hande te kry. Foto: SAPD
Vragmotorkapings neem die afgelope drie jaar geleidelik af vanaf ’n landwye totaal van 561 in die tweede kwartaal (Julie tot September) van 2022 tot die jongste kwartaallikse syfer van 449. Dis deel van die polisie se sogenaamde trio-misdade saam met transito- en bankrooftogte, waarvan geen gevalle in die tweede kwartaal van 2023 of verlede jaar aangemeld is nie.
Byna twee derdes (285 uit 459) van vragmotorkapings is tussen Julie en September verlede jaar in Gauteng aangemeld, 44 in die Oos-Kaap, 36 in KwaZulu-Natal en 35 in Mpumalanga. In Sentraal-Suid-Afrika is 31 voorvalle aangemeld: 19 in Noordwes, tien in die Vrystaat en twee in die Noord-Kaap.