On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Central SA

17 zama-zamas steeds in Klerksdorpse hospitaal ná 2 sterf

───   11:03 Sat, 25 Jan 2025

17 zama-zamas steeds in Klerksdorpse hospitaal ná 2 sterf | News Article
Zama-zamas word uit ’n uitgediende Stilfonteinse skag gehaal. Argieffoto: GroundUp/Ihsaan Haffejee

Nog een van die amper drie dosyn vermeende onwettige myners wat opgeneem is in ’n Klerksdorpse hospitaal, is oorlede.

Jonny Shingani is sedert 14 Januarie saam met nog 32 zama-zamas in die Klerksdorp/Tshepong-hospitaalkompleks behandel, sê Noordwes se gesondheidsdepartement. Die nasionale reddingsoperasie het hulle uit verlate mynskagte op Stilfontein gehaal.

Shingani het Donderdag (23/1) aan ’n “mediese toestand” gesterf, maar Tshegofatso Mothibedi, gesondheidswoordvoerder, verstrek nie nadere besonderhede in ’n gesamentlike verklaring met Noordwes se polisie nie.

Twee zama-zamas sterf in hospitaal

Provinsiale gesondheidswerkers het altesaam 246 vermeende onwettige myners behandel wat tydens die driedaagse operasie boontoe gebring is, voor hulle aan die polisie oorhandig is. Van die 246 is 33 in die Klerksdorpse hospitaalkompleks vir verdere behandeling opgeneem.

Shingani se dood bring die sterfgevalle op twee te staan, sê Mothibedi. “Al ons gesondheidsorgbeamptes bly daartoe verbind om lewens te red. Dit het duidelik geblyk nadat 14 van die oorblywende (31) pasiënte aan die polisie oorhandig is vir strafregtelike vervolging.”

Sewentien pasiënte is nog nie ontslaan nie, maar Mothibedi waarsku die media die departement sal nie “sensitiewe persoonlike inligting, waaronder die toestande waarvoor hulle behandel word”, oor die zama-zamas bekendmaak nie, asook “hul huidige mediese status”.

Tshegofatso Mothibedi, Noordwes-gesondheidswoordvoerder. Foto verskaf

Hy sê dit strook met die provinsiale gesondheidsdepartement se streng voldoening aan die Nasionale Geosondheidswet, wat klem plaas op pasiënte se reg op vertroulikheid. “Hierdie fundamentele wet word oor die algemeen toegepas op alle pasiënte in ons sorg.”

Intussen is die vermeende leier van die onwettige myners in Noordwes steeds op vrye voet nadat hy na bewering polisiebeamptes omgekoop het om om hom op pad na ’n polisiekantoor te laat ontsnap.

Noordwes-polisie soek wyd en syd na James Neo Tshoaeli, ’n Lesotho-burger wat ook as Tiger bekendstaan, terwyl hulle ook ondersoek instel na die vermeende korrupte polisiebeamptes, wat hom na bewering bygestaan het.

James Neo (Tiger) Tshoaeli, voortvlugtige leier van die zama-zamas by Stilfontein. Foto verskaf

Hy het blykbaar die afgelope week ontsnap nadat hy saam met ander onwettige myners uit die Buffelsfontein-goudmyn gered is. Hy het nooit by enige van die polisiekantore aangekom waarheen sy makkers geneem is nie en is in geen hospitaal opgeneem nie, al was hy deurentyd in polisebewaking.

Die polisie gebruik al die beskikbare hulpbronne om Tshoaeli op te spoor en in hegtenis te neem, het brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, Maandag (20/1) gesê. Sy het belowe die polisiebeamptes wat hom gehelp het, sal ook aan die man gebring word.

“Die verdagte word van aanranding, marteling en die opgaar van kosvoorrade beskuldig en word as uiters gevaarlik beskou. ’n Uitgebreide soektog is onderweg om die beamptes op te spoor wat met sy ontsnapping iewers tussen Skag 11 en die Stilfontein-polisie se aanhoudingselle gehelp het.”

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.