Central SA
Noordwes-polisie betreur dood van konstabel in padongeluk─── 10:03 Sun, 26 Jan 2025
Noordwes se polisiebestuur betreur die dood van ’n konstabel in ’n ongeluk op die N4 tussen Rustenburg en Brits.
Volgens voorlopige inligting was twee beamptes Saterdag omstreeks 02:30 op pad terug na die Mooinooi-polisiekantoor in ’n Toyota Hilux nadat hulle ontbied is na ’n beweerde motorkaping, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die vier vermeende slagoffers het beweer dat hulle ná die kaping in die omgewing van Bopanong gestrand langs die pad gelaat is. Die twee beamptes het hulle opgelaai, maar op die nasionale pad naby die nedersetting Majakaneng het die polisievoertuig gerol toe ’n band bars.
LEES OOK: Ouerpaar verloor albei seuns in botsing buite Bloemfontein
Paramedici het die 32-jarige, wat die bakkie bestuur het, op die toneel dood verklaar. Haar kollega, ook ’n konstabel, is in ’n nabygeleë hospitaal vir geringe beserings behandel en ontslaan. Al vier passasiers is ook beseer en na verskeie hospitale geneem.
Genl.Maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, betuig sy innige meegevoel met die naasbestaandes van die oorledene en wens die beseerdes spoedige herstel toe.
Ongelukke eis talle polisiebeamptes
Einde Maart 2010 het twee Noordwes-polisiebeamptes, konst. Itumeleng Lerole en studentekonst. Tebogo Malegase, omgekom nadat hul motor op die R507 tussen Ottosdal en Sannieshof omgeslaan het. Die bestuurder het blykbaar beheer oor die voertuig verloor.
In Februarie 2016 is twee speurders van Botshabelo tussen Winburg en Verkeerdevlei dood toe die polisiemotor waarin hulle twee verhoorafwagtendes vervoer het, gerol het. Een van die verdagtes is op slag dood.
Die ander ernstig beseerde speurder en ’n tweede verdagte is na die hospitaal op Winburg geneem, waar die ander polisiebeampte die volgende oggend gesterf het.
In die Noord-Kaap is sers. Bakang Alec en konst. Tumoetsile Mocwane in Januarie 2018 op slag dood in ’n ongeluk op die Kuruman-pad naby Tsineng toe hulle op pad terug van ’n ongeluk af was.
Ompabaletse Kalamore. Foto: Facebook/Ompabaletse Kalamore
’n Polisiesersant en twee voornemende polisielede is laat verlede jaar in die hospitaal behandel vir ernstige beserings ná ’n motorongeluk buite Mahikeng wat ’n kolonel en ’n ander kandidaat se lewe geëis het.
Die ongeluk waarin ’n polisievoertuig met ’n ander motor gebots het, het Sondag 24 November omstreeks 22:30 op die R503 naby Rooigrond by Mahikeng plaasgevind. Die twee polisiebeamptes en drie kandidate was in ’n Toyota Quantum-polisievoertuig na Mahikeng onderweg nadat die kandidate mediese toetse in Potchefstroom ondergaan het.
Ompabaletse Kalamore (28), een van die kandidate, is op die toneel dood verklaar, terwyl kol. Lucas Sekhwela (32) met aankoms by die hospitaal gesterf het.
OFM Nuus dg