Central SA
Vrystaatse kerkklok beier nou in Pretoria voort─── KAREN VAN DER BERG 07:00 Sun, 26 Jan 2025
“Dit is belangrik dat geskiedenis nie weggegooi moet word nie, maar om nuut daarop te bou.”
Dit was een van die redes waarom Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, verheug was om as middelman op te tree om ’n ou kerkklok van Koffiefontein na Pretoria te help skuif.
Die klok van die Gereformeerde Kerk Koffiefontein is honderd jaar oud. Dit het nou ’n nuwe tuiste by die ambagskollege Sol-Tech in Pretoria gevind, waar dit in ’n splinternuwe kloktoring voor die kampus se hoofgebou staan en gaan help om nuwe tradisies daar te vestig.
Nuwe tradisies word só op die been gebring wanneer studente daar begin studeer en ook hulle studie voltooi. Foto: Facebook/Sol-Tech
Die klok van die Gereformeerde Kerk Koffiefontein is honderd jaar oud. Dit het nou ’n nuwe tuiste by die ambagskollege Sol-Tech in Pretoria gevind, waar dit in ’n splinternuwe kloktoring voor die kampus se hoofgebou staan en gaan help om nuwe tradisies daar te vestig.
Noëth het tussen die Vrystaatse dorpe Petrusburg en Koffiefontein grootgeword. Hy vertel sy oupa het help bou aan die Gereformeerde kerkgebou op Koffiefontein. Die gemeente is in 1925 gestig, maar het aanvanklik ’n sukkelbestaan gevoer.
In 1933 het die getal lidmate skielik byna vervierdubbel toe sowat honderd NG lidmate en hul kinders uit die plaaslike NG gemeente na die Gereformeerde gemeente oorgekom het omdat hulle ontevrede was met die invoer van Nagmaalkelkies.
Die klok van die Gereformeerde Kerk Koffiefontein is honderd jaar oud. Foto: Facebook/Sol-Tech
Toe eers kon die gemeente bekostig om ’n kerkgebou teen £1 500 op te rig. Die hoeksteen is gelê in 1934. Die gewel was destyds besonder gewild en is losweg gegrond op dié van die Geloftekerkie in Pietermaritzburg. Die orrel is 26 jaar later aangebring en het ook £1 500 gekos. In die 1970’s is ’n ruim konsistorie en kombuis aangebou.
“Ek is ’n seun van hierdie gemeenskap. Ek was deel van die sesde geslag wat hier grootgeword het.” Hy het steeds ’n groot liefde vir dié twee dorpe al het sy roeping as predikant tussen 2000 en 2017, toe hy die bediening verlaat het, hom na Wolmaransstad, Naboomspruit, Kimberley en eindelik Pretoria gelei.
Hoewel hy op Petrusburg skool en kerk toe gegaan het, het hy dikwels saam met sy familie in die kerk op Koffiefontein gekom. Die gemeente sal egter bes moontlik binnekort ontbind omdat net twee gesinne oorgebly het. Dis nog nie seker wat van die kerkperseel sal word nie.
Hulle het besef die klok kan nou voort lui. Foto: Facebook/Sol-Tech
Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, het maniere probeer vind om nuwe tradisies op die been te bring wanneer studente daar begin studeer en ook hulle studie voltooi.
Noëth sê dit was logies om toestemming by die laaste gesinne te vra om die kerkklok te bekom. “Hulle antwoord was dadelik ja.”
Chris Nell, ’n lidmaat, het die goeie nuus met hom gedeel. Hulle het besef die klok kan nou voort lui.
“Dit is verskriklik belangrik wanneer ’n sekere tyd op ’n sekere plek verbygaan, dat die geskiedenis nie weggegooi word nie en daar nuut daarop gebou kan word,” sê Noëth, en voeg by soms moet ’n mens terugkyk om iets nuuts raak te sien.
In Pretoria staan nou ’n nuwe kampus met ’n honderd jaar oue klok, wat kan voortlui. “Die klok bind geslagte eintlik aan mekaar.”
Noëth sê simboliek van krag en vooruitgang is in die klok opgesluit. “Dit beteken nie die einde nie.”
Hy sê dit was ’n groot voorreg om as tussenganger op te tree om dit te help skuif.
Die klok is die afgelope week saam met die nuwe eerstejaars tydens ’n amptelike seremonie ingewy.