Central SA
Bejaarde met koperkabels betrap op plaas by Odendaalsrus─── 10:16 Sat, 25 Jan 2025
’n Verdagte wat na bewering koperkabels op ’n Goudveldse plaas gesteel het, kom na verwagting Maandag (27/1) in die hof voor.
Polisiebeamptes het Woensdag ’n wenk ontvang oor ’n 66-jarige man wat na bewering ingebreek het by ’n kragaanleg op ’n plaas in die omgewing van Odendaalsrus, sê kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Op pad na die plaas het hulle ’n houtskoolkleurige Chevrolet-voertuig teëgekom wat hul agterdog gewek het. “Die polisie het die voertuig probeer voorkeer, sonder sukses,” sê Earle.
Die verdagtes het voet in die hoek gesit met die polisie kort op hul hakke. Die verdagtes het die voertuig naby die Van der Vyverpad verlaat en te voet die bosse in gevlug. Dis toe dat beamptes die 66-jarige man kon aankeer.
Die koperkabels is gesteel by ’n kragaanleg op ’n plaas in die distrik Odendaalsrus. Foto: SAPD
Hulle het beslag gelê op koperkabels met ’n geraamde waarde van R150 000. Die verdagte, wat in hegtenis geneem is vir die besit van koperkabels en huisbraak-gereedskap, bly in aanhouding tot sy eerste verskyning in die landdroshof op Odendaalsrus.
Intussen het die dorp se speurafdeling 39 verdagtes aangekeer in ’n spesiale optrede vroeg Vrydagoggend om vermeende oortreders aan die man te bring wat van verskeie misdade in die omgewing verdink word, sê Earle. Beamptes het toegeslaan in die middedorp, Kuthloanong, mynskagte en op omliggende plase.
“Dié goed beplande operasie, toegespits op geslagsgeweld, gesinsgeweld en ander kontakmisdade – veral dié teen vroue en kinders – is uitgevoer onder aanvoering van Odendaalsrus se speurhoof,” sê sy.
Nog optredes beplan
’n Toegewyde span van twaalf beamptes het 01:00 ingeval en vier verdagtes aangekeer vir poging tot moord, ses vir aanranding met die opset om ernstig te beseer, vyf vir gesinsgeweldverwante misdade, nege vir aanranding en nog 15 vir onder meer huisbraak en roof.
Earle sê al 39 bly die naweek in polisieaanhouding tot hulle Maandag die eerste keer voorkom in Odendaalsrus se landdroshof.
Soortgelyke operasies sal weer gehou word, nie net om oortreders aan te keer nie, maar om gewoontemisdadigers aan die kaak te stel om eindelik die herhaling van misdade te voorkom, waarsku Earle.
OFM Nuus dg