On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Ouerpaar verloor albei seuns in botsing buite Bloemfontein

───   MORNÉ VAN ROOYEN 09:34 Sat, 25 Jan 2025

Ouerpaar verloor albei seuns in botsing buite Bloemfontein | News Article
Yolande en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit

Die drie jong slagoffers van ’n motorbotsing oos van Bloemfontein was al drie leerders aan die Primêre Skool Dr. C.F. Visser in Estoire.

Martin en Yolandé Smit het albei hul kinders, Ryan (6) en Ayden (8), verloor in die ongeluk Vrydagoggend (24/1) voor skool op die kruising van die N8 en Krugerlaan by Aljo’s Superspar. Martin is die bedryfsbestuurder van Maselspoort, ’n vakansieoord en konferensiesentrum buite die stad.

Sy susterskind Leané van Papendorp (8) is ook op slag dood in die botsing tussen ’n Hilux-bakkie en die Chevrolet Spark, waarin die kinders op pad skool toe was saam met Leané se ma, Adri Jonck. Haar pa, Herman van Papendorp, is ’n polisiebeampte op De Aar.

Adri Jonck is in die hospitaal opgeneem ná die ongeluk waarin haar dogter Leané van Papendorp gesterf het. Foto: Facebook/Darius Nell

Ayden is met ernstige beserings na die Busamed-hospitaal geneem waar sy hart twee maal gaan staan het voor hy eindelik dood verklaar is. Jonck, sy tannie, word in die Pelonomi-hospitaal behandel, terwyl die vierde leerling in die Spark in ’n kritieke toestand in die Mediclinic opgeneem is.

Jonck was kort ná 07:00 met die vier kinders op pad skool toe, toe die bestuurder van die Hilux-bakkie na bewering ’n rooi verkeerslig verontagsaam het. Hy is ook in die hospitaal opgeneem. Navalsig se polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Hul skool bring op Facebook hulde aan die drie jong oorledenes. Foto: Facebook/Primêre Skool Dr. C.F. Visser

“Dit is met die swaartste hart dat ons die afsterwe van drie geliefde leerlinge deel,” skryf die Primêre Skool Dr. C.F. Visser op Facebook. “Hierdie verlies laat ’n leemte in ons hart, en ons wil graag ons innige simpatie en medelye met hul families, vriende en klasmaats betuig.

“Ons hou vas aan die positiewe impak wat hulle op ons almal gehad het. Mag hulle glimlaggies en vrolikheid vir altyd in ons gedagtes wees. Laat ons hulle herinneringe vier deur dit wat hulle in ons lewe gelos het, te koester en voort te dra.”

Pick n Pay Reizis Square se bestuur en personeel skryf intussen op sosiale media hulle treur saam met die skool en sy hoof, Riekie Venter. “Hierdie rampspoedige ongeluk moes nooit gebeur het nie. Maar Jesus het ons almal se paaie klaar uitgelê. Ja, ons almal (is) kwaad, maar ons Hemelse Vader het sy plan met elkeen van ons.”

Yolande en Martin se jongste seun, Ryan, het pas met gr. 1 begin. Foto: Facebook/Martin Smit

Hulle bedank Venter dat sy “soos ’n ma vir hierdie kinders” was. “Dankie Riekie, vir wat jy in die kinders se lewe beteken het.” En spoor die onderwysers aan om sterk te wees: “(Maandag) as jy die klaskamer binnestap, gaan daar ’n bank leeg wees, maar wees sterk ter wille van die ander leerders.

“Gebruik daardie bank en sê vir die klasmaats as jy ooit hulp nodig het in jou skoolwerk, gaan sit op die bank. Sodoende help jy die kind.”

Hulle het ook ’n boodskap vir die oorledenes se klasmaats: “Ons gaan hulle mis, maar wys jy werk hard namens hulle … Onthou, hulle is by Jesus en hulle kyk af na julle. Maak hul trots, wys Dr. C.F. Visser-skool staan sterk en alles wat julle doen, is ter nagedagtenis aan hulle!”

OFM Nuus/Morné van Rooyen dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.