On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Matjhabeng-amptenare gevra om bruin water in openbaar te drink

───   09:48 Tue, 21 Jan 2025

Matjhabeng-amptenare gevra om bruin water in openbaar te drink | News Article
Die bruin water waaroor inwoners kla. Foto’s: Facebook

Inwoners van die Matjhabeng-munisipaliteit op die Vrystaatse Goudveld vra op Facebook dat munisipale amptenare die bruin water in hul krane drink “waar almal dit kan sien”.

Die VF Plus vra Thabo Panyane, waarnemende munisipale bestuurder, moet die gehalte en veiligheid van die bruin water in inwoners se krane dringend ondersoek.

Matjhabeng sluit Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia en Welkom in.

“Talle inwoners het die party genader oor die water se bruin kleur en onaangename reuk,” sê Stephen Pienaar, VF Plus-raadslid. “Die VF Plus betwyfel die munisipaliteit se verduideliking dat die probleem te wyte is aan gebarste pype wat herstel is en grond wat die watertoevoerstelsel sodoende binnedring.

Die bruin water stink glo ook. Foto: Jeanne Smith/Facebook-skermgreep

Die munisipaliteit beweer watermonsters is reeds vir toetsing weggestuur, sê Pienaar, maar geen uitslag is tot dusver aan die raad of inwoners bekendgemaak nie.

Kommer heers oor waarskuwings van E. coli in Allanridge se waterstelsel. “Dit is belangrik dat die waterkrisiskomitee wat in 2024 gestig is, sy werk begin doen en amptenare verantwoordelik hou vir die swak gehalte van water in Matjhabeng,” maan Pienaar.

Die VF Plus eis ook dat die munisipaliteit se infrastruktuurkomitee ’n volledige voorlegging oor die gehalte van Matjhabeng se water en infrastruktuur ontvang en dat werkbare oplossings voorgestel word. “Die ANC se versuim om die waterinfrastruktuur oor jare behoorlik in stand te hou, is ’n groot bydraende faktor tot hierdie krisis.”

‘Ek sal dit nie eens vir my honde gee om te drink nie’

In reaksie op dié versoek het verskeie inwoners op Facebook gereageer. “Ek het weer vanoggend so naar geword van die water wat direk uit Naudeville se krane kom,” sê Jeanne Smith. “Ná ’n ruk lyk dit of goed bo-op die water dryf. Dit gaan al maande so aan; dis ondrinkbaar, en kla help absoluut niks.”

“Gee (dit) vir munisipale amptenare om dit te drink waar almal kan sien,” stel Elsie Swart voor.

“Ek sal dit nie eens vir my honde gee om te drink nie. Dit is walglik,” meen Lynette Lange.

“Rustenburg se water het fyn sand in, as jy die bad uittap, lê daar 'n lagie sand op die bodem en die water stink,” voeg Riaan Labuschagne by, en Jan Oosthuizen stem saam met Swart: “Laat hulle dit self gebruik; probleem opgelos!”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.