Central SA
Vaaldam-grafte verklap tikkie Suid-Afrikaanse geskiedenis─── KAREN VAN DER BERG 14:54 Mon, 20 Jan 2025
’n Besonderse skatkis van ’n erfenis, geskiedenis en bewyse van wat jare gelede reeds begrawe is, lê opgesluit onder die water van die Vaaldam.
Op sosiale media het dit die afgelope twee maande opnuut gegons oor grafte wat etlike dekades oud is en behoue gebly het.
Sommige het in November en Desember weer uitgesteek weens die lae watervlak van die Vaaldam as gevolg van die droogte. Die vorige kere was in 2005 en 2016.
Een van die grafte wat sigbaar was weens die lae watervlak van die Vaaldam. Foto: Peet Schabort
Peet Schabort (82), jare lange inwoner van Deneysville, het ’n besonderse liefde vir die geskiedenis van die dam. Dit is ook naby hom wat die grafte sigbaar is.
“My ouers se invloed in my lewe is deurslaggewend,” vertel hy.
“’n Mens se anker vir die toekoms is tog waar jy vandaan kom. Bewaring van enigiets is van belang. Genealogie is egter die hoofsaak. Die neem van foto’s is op die ou einde wat gaan oorbly ter herinnering.”
Een van die grafte wat sigbaar was weens die lae watervlak van die Vaaldam. Foto: Peet Schabort
Schabort sê die Vaaldam moet minder as 29% vol wees voor die grafte sigbaar raak, soos in November gebeur het. Die damvlak het wel intussen weer gestyg, tot byna 61,2 % teen Maandag (20/1), en die grafte is weer toe onder die water.
Hy vertel heelwat grafte op verskeie plekke word deur die Vaaldam verswelg.
“Daarom het ek my verstout om dié hier by ons die Roets-begraafplaas, geleë noordoos en deel van die Grooteiland, te noem.”
UJ-eiland
Hy sê die Grooteiland staan ook bekend as UJ-eiland. Dit is die eiendom van Universiteit Johannesburg en is dus privaat eiendom.
Schabort sê hy het die nodige vergunning gekry om daar besoek te bring.
Hy was ook in verbinding met van die nakomelinge, en twee van hulle was ook saam met hom om die graf van hulle oorgrootjie (oupa se oupa) te besoek. Die graf is reeds ’n eeu oud.
Jacoba se grafsteen was steeds op 30 November 2024 op UJ-eiland. Foto: Peet Schabort
Schabort is wel erg ontsteld oor een van die grafstene wat gesteel is. Twee grafte wat hy daar gevind het, is dié van Voortrekker-voorouers, naamlik dié van Hendrik Adriaan Roets (1824–1897) en sy gade, Jacoba Dorothea Christina du Preez (1825–1893).
“Ons was op besoek daar op 30 November. Ons het toe ’n foto van die grafte geneem. Jacoba se grafsteen was steeds daar.”
Hy sê toe hulle op 20 Desember weer daar kom, was hulle geskok om te sien haar grafsteen het voete gekry. “Dit is ’n grafsteen wat 130 jaar daar gestaan het en die aanslae van die Vaaldam trotseer het.”
‘Daar is steeds mense wat afstam van die gestorwenes’
Schabort sê hy wonder of die grafsteen dieper in die dam gegooi is, in iemand se kroeg pryk en of dit nou deel uitmaak van ’n versiering in iemand se rotstuin.
Nog ’n graf, dié van Jacobus Frederik Janse van Vuren (1860–1928) het ook tussen 2016 en 2024 verdwyn.
Hoewel die grafte as ’n besienswaardigheid of toeristeaantreklikheid beskou word, is dit nie. Daar is steeds mense wat afstam van die gestorwenes. “Daarom moet daar nie vergeet word om hulle met die nodige respek te behandel nie.”
Jacoba se grafsteen was steeds op 30 November 2024 op UJ-eiland. Foto: Peet Schabort
Mense het toestemming nodig om daar besoek af te lê, maar sy groot wens is dat die grafte deur die dieptes van die Vaaldam omhels sal word sodat daar nie betreding kan wees of grafstropers kom skade maak nie.
Schabort sê daar is talle misverstande op sosiale media. “Baie mense is bekommerd oor die besoedeling van die drinkwater wat die grafte inhou. Dié tipe besprekings is net vir sensasie.
“Watter tipe besoedeling kan eeu oue grafte inhou? Mense moet eerder besorg wees oor die vars riool wat daagliks vanaf die munisipaliteite af in die opvangsgebied van die dam invloei.”