On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

‘Inbreker’ maak haar lekker tuis in Potchefstromer se huurhuis

───   13:18 Mon, 20 Jan 2025

‘Inbreker’ maak haar lekker tuis in Potchefstromer se huurhuis | News Article
Vermeende inbreker maak haar tuis in vakansieganger se huis. Foto: Potchefstroom Herald

’n Hawelose vrou van Potchefstroom wat glo in Desember by ’n huurhuis ingebreek het, het haarself tuisgemaak terwyl die regmatige huurder oorsee was.

Lede van Mooirivier Beskerming, ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy, het op versoek van die eienaar ondersoek ingestel en op die vrou en ’n vriendin afgekom waar hulle alte gesellig aan die rook en drink was, berig Potchefstroom Herald.

Luidens die berig het die vrou drie dae daar gebly terwyl die huurder oorsee was en die eienaar, wat langsaan woon, met vakansie.

Sonja Niemand, eienaar van die aangrensende huise, vertel mense wat haar diere opgepas het terwyl sy uitstedig was, het ’n vreemde vrou by haar huurhuis langsaan opgemerk. “Die huurder, ’n enkellopende man, was in daardie stadium oorsee. Ek het hom gekontak en gevra of hy enigiemand toestemming gegee het om in sy huis te bly terwyl hy weg was. Hy het my verseker hy het niemand toestemming gegee nie.”

Die hek se slot was oopgebreek. Foto: Potchefstroom Herald

Niemand sê toe sy verder niks kon uitvind oor wat aangaan nie, het sy die veiligheidsmaatskappy gevra om ondersoek in te stel.

“Toe Mooirivier Beskerming daar aankom, het hulle die vrou en ’n vriendin binne die huis aangetref waar hulle lekker sit en rook en drink. Die hek se slot was oopgebreek en van die deure in die huis was beskadig. Een ruit wat stukkend was, is oopgebreek en ons vermoed dit is hoe die vrou in die huis gekom het.

“Sy het selfs haar klere begin uitpak en wou hê Mooirivier Beskerming moes haar kans gee om te bad voordat sy die perseel verlaat.”

Beweer sy is huurder se eksvrou

Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, het aan Potchefstroom Herald bevestig hulle het in Desember ’n vrou verwyder wat ’n perseel in Jeugdstraat sonder toestemming betree het.

Niemand het met haar terugkeer van haar vakansie ’n saak by die polisie aangemeld. Die vrou het beweer sy is die huurder se eksvrou en dat sy toestemming gehad het om in die huis te bly. 

Die huurder het haar bewerings ontken, en bevestig dat hy nie toestemming gegee het nie.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.