On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Nikki
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Stilfontein se myners ‘het gedink hulle gaan sterf, wou moed opgee’

───   08:22 Sat, 18 Jan 2025

Stilfontein se myners ‘het gedink hulle gaan sterf, wou moed opgee’ | News Article
Mzwandile Mkway (links) saam met Mandla Charles. Foto: GroundUp/Ihsaan Haffejee

Toe die reddingsoperasie om onwettige mynwerkers uit ’n verlate mynskag in Stilfontein te haal amptelik begin het, het twee inwoners van die nabygeleë Khuma-township eerste in die metaalhok geklim waarmee daar in die mynskag afgesak is.

“Dit was ’n moeilike paar maande vir die gemeenskap van Khuma,” het Mandla Charles en Mzwandile Mkwayi aan GroundUp gesê. “Toe ons Maandagoggend (13/1) die geleentheid gekry het om af te gaan en te help het ons dit gedoen, want hierdie kwessie lê ons na aan die hart.”  

‘Daardie ouens het gedink ons is die messias’  

Hulle was nie voorbereid op wat hulle aanskou het nie.  Toe die hok ’n diepte van 1,280 m bereik het, het hulle honderde uitgeteerde mynwerkers en tientalle dooie liggame gesien.

“Die reuk van die dood was oral,” sê Charles. “Toe daardie ouens ons sien aankom het hulle gedink ons is die messias; hulle kon hul oë nie glo nie. Ek dink baie het gedink hulle gaan daar onder sterf en het moed opgegee.”

Mines Rescue Services laat sak ’n hok by die Stilfontein-skag om onwettige mynwerkers te help. Foto: GroundUp/Ihsaan Haffejee

“Ons het saamgestem ons moet sterk staan ter wille van die mynwerkers wat ons hulp nodig het,” sê Mkwayi. “Wat ek daar onder gesien het, sal ek nooit vergeet nie. Ek kan vir traumaberading gaan, ek sal dit nooit vergeet nie.”

246 zama-zama’s gered, 78 lyke uitgehaal

Die swakste mynwerkers is eerste opgeneem sodat hulle mediese aandag kon kry. Charles en Mkwayi het in die skag gebly om te koördineer en te help, en het eers aan die einde van elke dag na die oppervlak teruggekeer.

Ná drie dae het hulle saam met die reddingspan op die oppervlak 246 mynwerkers gered en 78 liggame uitgehaal. Donderdag (16/1) is ’n leë hok met water en oudio- en visuele toerusting gelaai en afgestuur “om na tekens van lewe te soek,” sê Mannas Fourie, uitvoerende hoof van Mines Rescue Services, wat aan die stuur van die reddingsoperasie gestaan het.

Mannas Fourie, uitvoerende hoof van Mines Rescue Services, en ’n kollega. Foto: GroundUp/Ihsaan Haffejee

“Ons het die redding op 'n diepte van 1 280 m bedryf, maar die hok is meer as 2 000 m diep afgestuur totdat ons water getref het. Die kamera en klanktoerusting het geen teken van lewe opgetel nie.”

Krisiskomitee wil regering van moord aankla

“Of iemand aanspreeklik gehou kan word vir die sterftes, dit is vir die howe om te bepaal,” het genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende polisiekommissaris van Noordwes, buite die skag aan die media gesê.

Die Stilfontein-krisiskomitee se voorsitter, Christopher Rutledge, het in ’n onderhoud met Newzroom Afrika die regering beskuldig van “planne om onwettige mynwerkers aan die dood oor te laat”.

Volgens Rutledge is die regering daarvan ingelig dat mynwerkers in skag 11 geen manier gehad het om die myn sonder hulp te verlaat nie. “Die enigste ander uitgang was deur skag 10, en dit is waar lyke van dooie mynwerkers gelê het. 

‘As jy jou balans verloor, val jy na jou dood’

“Die uitgang van skag 10 was daarby gevaarlik. Dit het geroeste, wankelrige ysterpale wat mense vir 2 km moet uitklim en as jy jou balans verloor, val jy waarskynlik na jou dood. Dit was onredelik om van mense te verwag om die myn só te verlaat.”

Polisie-operasies sal voortgaan en ’n polisieteenwoordigheid word in die gebied gehandhaaf. Gesprekke sal met die departement van minerale hulpbronne en energie gevoer word om ’n oplossing vir verlate myne te vind, berig Moneyweb.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.