Central SA
Nog ’n Vrystaatse vrou glo deur polisiekaptein aangerand─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:20 Fri, 14 Mar 2025

Nog ’n Vrystaatse vrou is glo deur ’n dronk polisiekaptein aangerand toe sy probeer het om ’n saak van diefstal te open.
Kenalemang Joyce Mokhoabane (32) is na bewering op 27 Februarie deur die polisiekaptein in haar huis by die Caleb Motshabi informele nedersetting aangeval, sê Opod Phaladi Shuping, woordvoerder.
Shuping het bevestig dat hulle besig is om die voorval te ondersoek, waarin Mokhoabane beweer sy is aan haar rok gegryp, in die gesig en ore geslaan en verskeie kere geskop.
“Na bewering het Mokhoabane ’n diefstalsaak by die Kagisanong-polisiekantoor aangemeld. Op die dag van die aanranding het die polisiekaptein haar na bewering gebel om haar adres te vra en gesê hy was op pad na haar huis. Mokhoabane sê egter hy het ure later opgedaag en dronk voorgekom, voordat hy haar na bewering aangerand het.”
Kenalemang Joyce Mokhoabane. Foto verskaf
Shuping het ook onthul dat die polisiekaptein ’n klag van aanranding teen Mokhoabane aanhangig gemaak het, wat tot haar inhegtenisneming gelei het. “Sy sou aanvanklik Maandag (10/3) in die hof verskyn het, maar haar saak is nie op die hofrol geplaas nie.”
Dié voorval volg kort op die hakke van ’n afsonderlike saak waarby twee polisievroue van die Heidedal-polisiekantoor in Bloemfontein betrokke is. Op 19 Januarie het Molebogeng Marumo (38) en Mamorena Shuping (28) na bewering ’n vrou, Steffney Booysen, aangerand nadat sy die stasie besoek het om hulp met ’n gesinsgeweldkwessie te soek.
’n Onderonsie tussen Booysen en die beamptes het na bewering in die aanranding uitgeloop. Die voorval is wyd op sosiale media gedeel, wat gelei het tot die beamptes se inhegtenisneming op 6 Februarie.
Hulle het die volgende dag in die hof verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat.
OFM Nuus cg