On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Klag ingedien weens meer as agt jaar se waterprobleme in Koffiefontein

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:22 Fri, 14 Mar 2025

Klag ingedien weens meer as agt jaar se waterprobleme in Koffiefontein | News Article
Dave McKay, DA-LPW, by die Kalkfonteinkanaal in Koffiefontein. Foto verskaf

’n Formele klag is ingevolge die Nasionale Waterwet ingedien weens die voortslepende watertekort op ’n Vrystaatse dorp.

Inwoners van Koffiefontein, deel van Letsemeng-munisipaliteit, word aan ernstige watertekorte onderwerp.

Water word net tot 12 uur per dag aan Koffiefontein voorsien, Dit is nie te wyte aan ’n gebrek aan water in die Kalkfonteindam nie, maar weens onbevoegdheid en korrupsie in Letsemeng, sê die DA-wetgewerlid Dave McKay, die party se Letsemeng-kiesafdelingshoof. “Hierdie probleem duur voort sedert die droogte van 2016.”

Wanbestuur van waterbronne is duidelik uit ’n reeks onrusbarende kwessies, sê hy.

“In 2023 het die voormalige waarnemende munisipale bestuurder na bewering ’n tender van R38 miljoen vir grootmaatwateropgraderings aan ’n kontrakteur toegeken,” sê McKay.

Dave McKay. Foto verskaf

“Die voormalige bestuurder sowel as die kontrakteur is later in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, korrupsie en oortredings van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur.”

McKay sê R8 miljoen van die tender is reeds uitbetaal, maar die saak is sub judice, terwyl die projekterrein vervalle is. “Voorts is ’n aansienlike lekkasie by die rouwater-onttrekkingspomp vir drie jaar lank nie herstel nie, wat die waterkrisis vererger.”

Volgens McKay is daar al twee en ’n half jaar nóg ’n groot lekkasie by die verspreidingspunt, wat veroorsaak dat die Koffiefontein-gholfbaan elke aand oorstroom wanneer water vir huishoudelike gebruik vrygelaat word. “Honderde lekkasies oor die dorp en omliggende townships bemoeilik steeds sake.

‘Meer water vloei in strate as na krane’

“Boonop bemoeilik die gebrek aan toepaslike abstraksiepompe die proses om veelvuldige reservoirs te vul.”

McKay wys ook daarop dat daar dikwels meer water snags in die strate vloei as wat inwoners se krane bereik, wat lei tot ’n enorme vermorsing van ’n kosbare hulpbron. “Die party sal die situasie fyn dophou om amptenare aanspreeklik te hou vir hul versuim om skoon water aan die inwoners van Koffiefontein te verskaf.”

OFM Nuus het die Letsemeng-munisipaliteit om kommentaar genader.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.