On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Swaarste reën in dekade oorstroom Noordwes-hospitale

───   11:19 Wed, 08 Jan 2025

Swaarste reën in dekade oorstroom Noordwes-hospitale | News Article
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, tydens sy besoek aan die Generaal De la Rey-hospitaal. Foto: Facebook/Departement van Gesondheid

Dis nog onbekend wanneer ’n hospitaal op Lichtenburg sal kan heropen nadat dit oorstroom het.

Generaal De la Rey is een van drie hospitale in Noordwes wat die afgelope week ná swaar stortreën oorstroom het. Altesaam 33 pasiënte, onder wie pasgebore babas, moes daarvandaan na ander hospitale oorgeplaas word.

Die Lichtenburgse hospitaal en Moses Kotane naby Sun City het kwaai deurgeloop onder stortreën.

Sello Lehari, LUR vir gesondheid in Noordwes, en dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het die Genl. De la Rey-hospitaal in Lichtenburg besoek. Foto: GCIS

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Generaal De la Rey Dinsdag (7/1) besoek. Hy sê Noordwes het die afgelope week die swaarste reën in ’n dekade beleef, berig News24. Meer as 10% van Lichtenburg se jaarlikse reënval het binne ’n dag uitgesak.

Swak instandhouding van dreineringstelsels in die Ditsobotla-munisipaliteit het grootliks tot die oorstromings bygedra.

Verpleegpersoneel van die Generaal De la Rey-hospitaal help met opruiming. Foto: Izindaba Zethu

Sello Lehari, LUR vir gesondheid, verkwalik die geblokkeerde dreineringstelsel op Lichtenburg vir die hospitaal se oorstroming. Pius Batsile, munisipale woordvoerder, het aan Newzroom Afrika gesê dringende ingryping is nodig. “Dit is ’n gevaarlig vir ons. Ons moet kyk na die instandhouding van ons infrastruktuur.

“As ’n gebeurlikheidsplan het die munisipaliteit tegnici ontplooi om alle verstopte dreine op Lichtenburg reg te maak en om die hospitaal te help opruim. Ons stormwaterdreine word gereeld skoongemaak en onderhou. Ons moet bepaal wat daartoe gelei het dat die hospitaal oorstroom het.”


Ditsobotla het intussen ’n kontrakteur aangestel wat Woensdag (8/1) by die hospitaal sal begin om die lekkende dakke, vloere en die dreineringstelsel te ondersoek.

Motsoaledi sê die provinsiale gesondheidsdepartement beplan om die ou en vervalle hospitaal op te knap. Dit sal die vermeerdering van 60 tot 120 beddens insluit. “Ingenieurs is opdrag gegee om klimaatsverandering in ag te neem; hulle kan nie bou soos jare gelede nie.”


Bennett Masike, Sanco-streeksekretaris, kritiseer die munisipaliteit oor swak dienslewering, berig News24. Hy sê die hospitaal ondervind sedert 2015 oorstromings. 

“Dis nie die eerste keer dat die hospitaal oorstroom nie. Ons het al gekla oor die algemene toestand daarvan.

“Daar is geen funksionerende waternetwerkstelsel in Ditsobotla nie. Politieke onstabiliteit in die munisipaliteit lei tot swak dienslewering.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.