Central SA
Nog ’n verkoolde liggaam dalk uit Vanderbijl-brandtoneel gehaal─── 15:26 Wed, 08 Jan 2025
Polisie in die Vaaldriehoek moet nog bevestig hoeveel verkoolde liggame uit die puin van ’n brand in Vanderbijlpark se middedorp verwyder is.
Inbrekers het na bewering Maandag (6/1) die brand gestig wat talle ondernemings beskadig het. Albei vermeende boosdoeners het blykbaar ’n vlammedood gesterf.
Veiligheidsbeamptes het vroeg die oggend ’n waarskuwing van ’n inbraak by PEP ontvang. Met hul aankoms op die toneel het hulle verdagtes in die winkel opgemerk.
Tekens van ’n brand was reeds aanwesig. Die verdagtes het verder die winkel in gevlug.
’n Tak van Capitec Bank, asook Chicken Licken, Fashion World en PEP is deur die brand in puin gelê.
Die vlamme het intussen versprei. Brandbestryders van Emfuleni-munisipaliteit was oomblikke later op die toneel en het ure lank gespook om die brand in bedwang te bring.
Nadat dit geblus is, is die verkoolde liggaam in PEP se pakkamer ontdek. Die oorskot is luidens berigte naby ’n ineengestorte plafon gevind.
Video: Sedibeng Ster
Volgens bronne na aan die ondersoek is die liggaam onherkenbaar verbrand.
’n Geregtelike doodsondersoek is geopen, het Teboho Lephoto, Sedibeng-polisiewoordvoerder, aan die gemeenskapskoerant Sedibeng Ster gesê. Hy vra dat enigiemand met inligting oor die voorval Vanderbijlpark se polisie kontak.
Volgens Netwerk24 kon hy nie die ontdekking van ’n tweede lyk bevestig nie.