Central SA
Noordwesters betoog weens ‘weke sonder water’─── 14:33 Wed, 08 Jan 2025
Die N14 en R503 by Coligny is heroopgestel vir verkeer ná ’n vreedsame betoging oor gebrekkige watertoevoer.
Ontstoke inwoners van die dorp en Thlabologang kla hulle het amper ses weke laas watertoevoer na hul huis gehad. Daarom het hulle Woensdagoggend (7/1) met vragmotors en trekkers opgeruk en die paaie versper.
Herhaalde kragonderbrekings lei daartoe dat Ditsobotla-munisipaliteit nie water na inwoners kan pomp nie. Boonop is die waterpompe onklaar wat grootmaatwater na die dorp toe pomp.
Paaie is versper uit verset teen swak dienslewering. Foto: Fanus Schutte
Carin Visser, DA-lid in die Nasionale Raad van Provinsie en ’n inwoner van Sannieshof, het in Desember namens inwoners verskeie pleidooie aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om by die bestuur van die munisipaliteit in te gryp.
“Coligny en Tlhabologang is steeds sonder grootmaatwatertoevoer. Die reservoir loop oor, maar die drukpompe is gebreek. Inwoners van Tlhabologang dreig met protesaksie weens hul onmenslike lyding. Daar is geen kommunikasie vanaf die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit of die Ditsobotla-munisipaliteit nie.
Onmeetbare skade
“In Ditsobotla word voortdurend onmeetbare skade aan die ekonomie, lewens en lewensbestaan aangerig, veroorsaak deur swak finansiële bestuur. Ditsobotla is ’n plaaslike regering wat nou rampafmetings (aanneem).”
Intussen word Ditsobotla verkwalik vir die oorstroming van die Generaal De la Rey-hospitaal op Lichtenburg ná swaar neerslae. Swak instandhouding van dreineringstelsels in die Ditsobotla-munisipaliteit het grootliks tot die oorstromings bygedra.
Generaal De la Rey is een van drie hospitale in Noordwes wat die afgelope week ná swaar stortreën oorstroom het. Altesaam 33 pasiënte, onder wie pasgebore babas, moes daarvandaan na ander hospitale oorgeplaas word.
Die Lichtenburgse hospitaal en Moses Kotane naby Sun City het kwaai deurgeloop onder stortreën.
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Generaal De la Rey Dinsdag (7/1) besoek. Hy sê Noordwes het die afgelope week die swaarste reën in ’n dekade beleef, berig News24. Meer as 10% van Lichtenburg se jaarlikse reënval het binne ’n dag uitgesak.
[BRIEFING HAPPENING NOW] #NorthWest Litchenburg: Minister, Dr Aaron Motsoaledi, accompanied by NW Health MEC, Sello Lehari and senior managers, including a team of engineers in a meeting at General De La Rey Hospital, to assess the damages caused by the heavy downpours. pic.twitter.com/QZic6fxL7B
— National Department of Health (@HealthZA) January 7, 2025
Blokkering van pad ‘onaanvaarbaar, onwettig’
Die polisie in Noordwes is ernstig bekommerd oor ’n groep betogers wat na bewering die R503 (Lichtenburg) en R503 (Hartbeesfontein) kruisings en N14-pad in Coligny buite Lichtenburg versper het weens ’n oënskynlike tekort aan watertoevoer in hul area.
Die polisie wil graag aandui dat die blokkering van ’n pad onaanvaarbaar en onwettig is, sê brig. Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder. Die Wet op die Regulering van Byeenkomste, 1993, laat vreedsame betogings toe, wat nie ander mense se regte skend nie.
Diegene wat betoog kan nie toegelaat word om die wet te oortree nie, ongeag hoe geregverdig hul bekommernisse of eise is. In die uitvoering van hul mandaat ingevolge Artikel 205(1)(3) van die Grondwet, sal die polisie nie huiwer om op te tree teen enigiemand wat onwettige aktiwiteite aanpak nie, nie net in Coligny nie, maar ook in ander gebiede in die provinsie.