On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein-legende Theunie Kloppers gelukkig op Bethlehem

───   12:39 Wed, 08 Jan 2025

Bloemfontein-legende Theunie Kloppers gelukkig op Bethlehem | News Article
Theunie Kloppers – Bloemfontein se verlies is Bethlehem se wins. Foto: Susan Maré

’n Formidabele oud-Bloemfonteiner wat deesdae in ’n knus huisie in die Bergprag-sentrum vir Bejaardes op Bethlehem woon, het jare lank diep spore in die Vrystaatse hoofstad getrap.

Theunie Kloppers was ’n restauranteienaar en sjef om oor huis toe te skryf. Haar naam is sinoniem met talle geleenthede, onthale, begrafnisse, verjaardae, lekker kos en samesyn. Sy word vereenselwig met Die Stalle, die restaurant agter die Ou Presidensie, Iets Niets-spyseniering, Pimento en lekker eet in die Vrystaatse Botaniese Tuin.

Bloemfonteiners sal haar ook onthou van die Groen Kamer by die Bloemfonteinse Kunstefeeste op die Kovsie-kampus, die Bloemfonteinse skou en die restaurant by CBC se Old Boys’ Club. Kerrieafval, fillet met wondersous en peer-en-patatslaai soos net sy dit kan maak en voorsit, het Bloemfontein nog nie weer gesien nie.

Theunie Kloppers word onder meer vereenselwig met lekker kos en samesyn by Pimento. Foto: Facebook

In haar matriekjaar aan Meisieskool Oranje was sy onderhoofmeisie. Ná skool het sy ’n B.Com. in personeelbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Die kosrigting was nie beplan nie en het later eers gekom.

Sy het veral haar kennis, resepteboeke en talente ingespan om haar personeel te inspireer, op te lei en te bemagtig om sjefs in eie reg te word.

Maar dit was nie aldag maanskyn en rose nie, want amper was daar ’n Moedersdag-blaps in 2020 toe sy die bestellings verkeerd getel het: 400 pakkies pleks van 725. Danksy vinnige planne en ekstra voorraad by haar verskaffers het hulle daardie dag met vier motors die meer as 700 pakkies in rekordtyd afgelewer.

’n Gelukkige Moedersdag in Bethlehem saam met haar familie. Foto: Facebook

Sy verlang dikwels terug na die ou dae, na ou Bloemfontein met klante soos burgemeester Cathy van Rhyn, Jopie Bok, Hanna de Villiers, Coreen Bezuidenhout, die Nellie Swart-damesklub, en baie ander.

Sy is gelukkig op Bethlehem, waar haar seun en gesin ook is. Haar kleinkinders is haar hart se punt. Gesondheidsgewys was 2024 ’n uitdaging met ’n dubbele hartomleiding en nou ook die feit dat sy drie dae per week dialise moet kry.

Die koslegende sê al verlang sy na sy Bloemfontein, het sy goed in die Oos-Vrystaat aangepas. Foto: Susan Maré

Theunie sê al mis sy Bloemfontein se mense, is Bethlehem goed vir haar. Bo alles is die Here baie goed vir haar. Ondanks uitdagings is daar sowaar al weer bedrywighede in haar kombuis. Dit klink na smullekker pasteitjies wat sy en haar jare lange sjef nou bak. Bloemfontein se verlies is Bethlehem se wins.

OFM Nuus/Susan Maré cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.