On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vier Noordwes-direkteurs in hof oor belastingontduiking

───   MARIETJIE GERICKE 11:26 Sat, 21 Dec 2024

Vier Noordwes-direkteurs in hof oor belastingontduiking | News Article
Foto: Canva

Vier maatskappye en hulle direkteurs kom weer volgende jaar voor nadat hulle die afgelope week op verskillende plekke in Noordwes in die hof verskyn het vir belastingontduiking.

Die owerheid slaan hard met die projek Honey Badger, rateltaai optrede deur die NVG, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Valke wat geen steen onaangeroer laat om vermeende belastingontduikers in die provinsie vas te trek nie.

In die Potchefstroomse landdroshof is die saak Donderdag (19/12) uitgestel teen Albert John (83) na 4 Februarie sodat hy aandag kan gee aan die problematiek rondom sy uitstaande belastingopgawes. 

Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Foto: SARS.gov

Hy het tot dan kans om die belasting te betaal wat hy skuld of regstappe sal teen hom voortgaan, sê Sivenathi Gunya, Noordwes-NVG-woordvoerder.

John het verskyn as die direkteur van A. John h/a Albert Vervoer, waar hy Donderdag in die hof tereg gestaan het op 15 aanklagte van die oortreding van art. 234 (d) van die Wet op Belastingadministrasie, naamlik dat hy in gebreke gebly het om belastingopgawes in te dien. 

Volgens die klagstaat het hy tussen Maart 2012 en Junie vanjaar na bewering versuim om loonbelasting (LBS) en BTW-opgawes in te dien, ondanks ’n telefoniese aanmaning en die herinnering van die SAID op 1 April 2022 en daaropvolgende geskrewe kennisgewings om die belasting van sy maatskappy te betaal.

‘Die beskuldigde was afwesig tydens Dinsdag se hofverrigtinge’

Honey Badger wil belastingbetaling verbeter deur individue en entiteite vir belastingvermyding verantwoordbaar te hou deur regstappe, sê Gunya. Nog twee verdagtes het die afgelope week voorgekom.

Op Dinsdag (17/12) het die Mmabatho-landdroshof die saak teen Mariolene Trading BK, verteenwoordig deur Pieter Jacobus Scholtz, as die enigste aktiewe lid en die maatskappy se direkteur tot 10 Maart uitgestel sodat die beskuldigde in die hof kan verskyn. 

Die beskuldigde was afwesig tydens Dinsdag se hofverrigtinge vanweë onvoorsiene omstandighede wat gelei het tot die magtiging van ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming, maar dit is tot die volgende hofdatum opgeskort.

‘Hy het steeds versuim om opgawes in te dien’

Mariolene Trading word in die gesig gestaar deur 35 aanklagte, sê Gunya, nadat dit uit ondersoeke geblyk het die beskuldigde het tussen Maart 2019 en Mei vanjaar nie opgawes vir sy maatskappy ingedien nie.

Op 25 Januarie 2022 het die SAID hom telefonies daaraan herinner om die uitstaande opgawes names sy maatskappy in te dien. Daaropvolgende kommunikasie is ook aan Scholtz gestuur, maar hy het na bewering steeds versuim om opgawes in te dien.

Ventersdorp se landdros het intussen Woensdag (18/12) ’n lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van John Christopher Conroy (59), direkteur van CJC Precast, nadat hy versuim het om in die hof te verskyn. CJC Precast staan tereg op 65 aanklagte van die oortreding van die Wet op Belastingadministrasie.

Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Foto: npa.gov

Ondersoeke het aan die lig gebring dat Conroy tussen Februarie 2019 en Junie vanjaar versuim het om sowel BTW- en maatskappy-inkomstebelastingopgawes vir CJC Precast in te dien. Ondanks telefoniese aanmanings van die SAID, sowel as geskrewe kennisgewings, het Conroy glo steeds versuim om sy verpligtinge na te kom.

OFM Nuus/Marietjie Gericke mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.