Central SA
Vragmotoreienaar in sop oor onwettige immigrante op sleepwa─── 07:40 Mon, 23 Dec 2024
Vervoermaatskappye word gemaan om deurentyd bewus te wees van bestuurders se doen en late nadat Vrystaatse verkeersbeamptes op meer as 50 passasiers in ’n vragmotor afgekom het.
Die beamptes het dié ontdekking gedoen toe hulle Sondagoggend (22/12) ’n vragmotor met twee sleepwaens op die N1 by Bloemfontein aftrek, sê Hillary Mophethe, woordvoerder van gemeenskapsveiligheid. Van die 47 volwassenes en vier kinders (tussen nege maande en vyf jaar) wat onwettig in die agterste sleepwa vervoer is, was twee vroue en 26 mans onwettige immigrante uit Lesotho.
Provinsiale inspekteurs het ’n padkontrolepunt op die N1 suid van Bloemfontein beman toe hulle dié skokontdekking doen nadat hulle die bestuurder van die vragmotor met twee sleepwaens gevra om af te trek sodat hulle dit kon inspekteer.
Tydens die inspeksie het die beamptes vreemde geluide uit die agterste sleepwa hoor kom. “Nadat die bestuurder gevra is om dit oop te maak, het die inspekteurs afgekom op die 47 volwassenes en vier kinders wat op ’n baie onveilige wyse in die agterste sleepwa vervoer is,” sê Mophethe.
Die vragmotorbestuurder is na die naaste vulstasie begelei. Foto verskaf
Die beamptes het die vragmotor na die naaste vulstasie vergesel, waar die passasiers gevra is om uit te klim. Die polisie is ontbied, en nadat die passasiers deursoek is, is vasgestel dat 28 Lesotho-burgers was wat die land onwettig binnegekom het. Hulle is in hegtenis geneem vir oortreding van die Wet op Immigrasie.
Die vragmotoreienaar word aangekla van vervoer van passasiers vir vergoeding sonder die nodige bedryfslisensie. Die vragmotor is na die verkeersafdeling se beslagleggingsentrum geneem nadat die beamptes daarop beslag gelê het.
Hou vragmotors dop
Jabu Mbalula, LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, rig ’n sterk waarskuwing aan vervoeroperateurs. “Ons vra operateurs om deurentyd hul voertuie dop te hou om sulke onwettige bedrywighede deur hulle bestuurders te voorkom.
“Waaksaamheid is uiters belangrik om sulke voorvalle te voorkom en om die veiligheid van alle padgebruikers te verseker.”
Hy meen die suksesvolle operasie dui op die toegewydheid van verkeersbeamptes om te verseker dat almal aan die padreëls gehoorsaam en wetsoortreding te voorkom.
OFM Nuus mc