On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Gedenkdiens vir geliefde progerielyer Beandri Booysen Vrydag gehou

───   MARIETJIE GERICKE 06:00 Mon, 23 Dec 2024

Gedenkdiens vir geliefde progerielyer Beandri Booysen Vrydag gehou | News Article
Beandri Booysen. Foto: Facebook

’n Gedenkdiens vir Suid-Afrika se geliefde progerielyer en Tik Tok-persoonlikheid, Beandri Booysen (19), word Vrydag (27/12) gehou.

Sosialemediagebruikers bring steeds hulde nadat die laaste lyer aan progerie oftewel Hutchinson-Gilford Progeria-sindroom Woensdag (18/12) gesterf het toe haar hart gaan staan en noodbehandeling sowat 50 minute tevergeefs toegepas is.

Haar ma, Bea, sê binne twee dae het sy amper 200 WhatsApps met medelye gekry, terwyl sy nog nie kans gehad het om op Facebook of weer op Tik Tok te kyk nie, want die telefoon lui onophoudelik. Soms daag mense sommer by hul huis op om te simpatiseer en te vertel hoe stukkend hulle hart oor die groot verlies is.

Beandri Boooysen kleintyd. Foto: X

Beandri was die jongste van vier kinders. Haar broers is Jaco (35), Herman (34) en Ruben (26).

“Die lewensviering van ons dogter is Vrydag 27 Desember om 10:00 en dit sal in die Unite 180-kerk op die hoek van Sefako Makghato Drive en Baviaanspoortweg gehou word waar toegang via die Kameeldriftpad in Derdepoort, Pretoria, verkry kan word. Almal is welkom.”

Diegene wat dit wil bywoon, kan die skakel om bywoning te bevestig op Beandri Power Inspiration se Facebook-blad kry. Die kerk het sowat 2 500 sitplekke. “Ons het besluit om maar groot te gaan, want dit lyk of heelparty mense haar gedenkdiens wil bywoon,” sê Bea.

Beandri en haar ouers, Pieter en Bea Booysen. Foto: Facebook

Sy en haar man, Pieter, sê hulle sal Beandri nooit vergeet nie. “Sy was ’n omgeemens wat haar laaste alles vir iemand sou gee. Haar wens was dat sy veras word en haar as langs dié van haar ouma Annatjie Marais in ons huis geplaas word. 

“Albei se as sal dus in houtkissies langs mekaar in die voorhuis geplaas word. Daar is ook die as van Beandri se hondjie, Bokkie, wat vroeër vanjaar dood is.”

Pa Pieter sê dit is eintlik sy vrou, Bea, wat die meeste tyd saam met Beandri kon deurbring. “Sy was 25 uur per dag, agt dae per week saam met haar. As gevolg van my werk kon ek nie soveel tyd met haar deurbring nie, waaroor ek spyt is. Dit maak die hartseer nie minder nie.”

Beandri en haar ouers saam met die joernalis Mia Spies tydens ’n onderhoud met eNuus in 2019. Foto: Facebook

Volgens Bea was haar dogter die laaste oorlewende persoon in die land wat met progerie, of “oumenssiekte” in die volksmond. Dit is ’n seldsame genetiese toestand wat kinders vroeg laat oud word of verouder.

Gevra hoe sy Beandri sal onthou, sê Bea: “Sy was die kleinste mense met die grootste hart. Sy het slegs 12,5 kg geweeg, maar het vir almal omgegee en wou net help waar sy kon.”

Beandri se gesondheidsprobleme was legio. Met die jare is sy tien maal geopereer. Die laaste keer was ’n opehartoperasie op 10 Oktober.

Beandri Booysen. Foto: Facebook

Beandri was skerpsinning en nie op haar mond geval nie, sê haar ma. “Sy het nie toegelaat dat mense oor haar loop nie. Dit is hoe mense haar op Tik Tok leer ken het. 

“Sy was vir baie mense ’n inspirasie op Tik Tok. Mense sê hulle het nou nie meer iemand om na te gaan nie. Sy is verlede jaar benoem vir die inspirasie- of smaakmaker van die jaar van die (vroue)tydskrif Kuier.  

Beandri Booysen. Foto: Facebook

“Sy het baie op Tik Tok gegaan om mense bewus te maak van haar toestand, maar glad nie om simpatie te soek nie. Sy wou eerder ander help en nie hulp gehad het vir haarself nie.  

Sy het nooit gekla dat sy seer of pyn het nie. Sy was ook ’n baie gelowige kind.”

Bea sê Beandri het vir haar gesê sy het nooit gedink dat sy die hartoperasie vanjaar sou oorleef nie. Daarom het sy die dokter gevra om vir haar te bid.

Beandri saam met Mientjie Pienaar Prozesky van Rock of Hope. Foto: Facebook

“Sy het voorskool begin pruike dra, maar het later daarmee vrede gemaak dat sy nie hare het nie. Sy het later net met spesiale geleenthede ’n pruik gedra soos met haar 19de verjaardag op 20 November.”

Met ’n insameling op Tik Tok het sy binne ’n week R20 000 ingebring vir die organisasie Rock of Hope, ’n plek van veiligheid en ’n liefdevolle tuiste vir verlate babas en kleuters. 

‘Sy laat ’n dieretuin vir haar geliefdes na’

“Sy het seker gemaak dat ek baie besig gaan wees as sy nie meer hier is nie, want al die diere in die huis is hare. Daar is agt honde: Miley, Chloe, Lea, Whiskey, Tinky, Lilly, Coco, en Peanut. 

“Sy het ook vir haarself ’n marmosetapie gekoop met die naam Angel. Dan is daar ook nog die babakatjie Oreo en die budjie Blue wat nou versorg moet word. Sy laat ’n dieretuin vir haar geliefdes na en was ’n groot diereliefhebber.

“Sy was ’n gelukkige kind, maar sy het ook maar seer gehad, alhoewel sy dit nooit gedeel het nie. Dit was ’n liggaamlike seer omdat sy geweet het sy is anders. Sy het ook op Instagram gesê haar grootste vrees is om haar ouers te verloor omdat hulle haar grootste ondersteuners is.”

Beandri Booysen. Foto: Facebook

As mense sou vra waarom sy ’n houding het, het sy geantwoord: “Ek het nie ’n houding nie, maar net ’n persoonlikheid wat jy nie kan hanteer nie.”

Toe Beandri eenkeer gevra is hoe sy voel oor mense wat nie perfek gebou is nie, het sy geantwoord: “Ek persoonlik gaan nie vir die uiterlike nie as dit kom by vriendskap of verhoudings nie. Ek gaan vir die persoonlikheid.” 

“Sy was ook baie lief vir kinders. Sy wou graag ’n onderwyser geword het. Sy het kindersielkunde, dagsorg vir kinders, en lewensoriëntering studeer en alles met onderskeiding deurgekom. Sy het self geleer. Ek het haar nie gehelp nie,” sê haar ma.

Uitnodiging na Beandri se gedenkdiens. Foto: Facebook

Bea sê hulle as ouers het Beandri nie net emosioneel nie maar ook fisiek ondersteun deur haar te help om in ’n motor te klim of daaruit te klim of om in ’n bad in te klim of daaruit te kom, want sy kon dit nie self doen nie.

“Ons gaan haar lag nou in die huis mis, want dit was baie aansteeklik gewees. Haar dood was te gou gewees, maar ons kan seker net die Here dank vir die tyd wat sy wel vir ons gegun was.” 

OFM Nuus/Marietjie Gericke mvh/mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.