On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Plaasbewoners by Bloemfontein eis Eskom moet opdok vir vleisskade

───   MARIETJIE GERICKE 15:35 Fri, 20 Dec 2024

Plaasbewoners by Bloemfontein eis Eskom moet opdok vir vleisskade | News Article
Inwoners moes pakke vol vrot vleis weggooi. Foto verskaf

Eise staar Eskom in die gesig weens skade wat plaasbewoners buite Bloemfontein gely het toe die krag ’n week lank af was en kos in ys- en vrieskaste vrot geword het.

Ondanks vele klagtes en versoeke aan die kragvoorsiener het die elektrisiteit eers Donderdagaand (19/12) om 23:05 aangekom nadat dit sedert verlede Vrydagaand af was.

Monica Klopper vertel haar ouers, Cas en Miem Kolbe – wat woon op die plaas Berlein, sowat 7 km van die Phillip Saunders-oord af – het groot skade gely toe hulle al hulle vleis, onder meer dit wat vir Kersfees aangekoop was, moes weggooi omdat hulle ’n week sonder krag gelaat is.

Susan Nortje, Miem Kolbe en Cas Kolbe van die plaas Berlein moes al hulle vleisprodukte weggooi wat vrot geword het, omdat hulle al ’n week sonder krag sit. Foto verskaf

“My ouers is van plan om ’n eis teen Eskom in te stel. Hulle het dit nie breed nie en sukkel om te oorleef. Die skade met die kos wat weggegooi moes word, is vir hulle traumaties, en daar is nie geld om ander te koop nie.”

Sy sê haar ouers het ook snags geen beligting gehad nie en het in vrees geleef omdat dit snags so donker was en hulle nie kon sien wie aankom nie.

Klopper sê die eienaar van die plaas, Karel van der Berg, het ook met sy beeste en varke gesukkel tydens die week lange kragonderbreking en die versengende hitte toe water nie gepomp kon word nie.

‘Die varke was swak van die hitte-uitputting’

“My beeste en varke het sonder water gestaan omdat daar nie krag was om die water oor te pomp nie,” sê Van der Berg. “Ek moes die beeste na ’n ander deel van die plaas verskuif waar daar wel ’n bietjie water by ’n windpomp was.

“Die varke was swak van die hitte-uitputting en het sommer in hulle kos gaan lê om net ’n bietjie koeligheid te kry. Ons moes water met emmers aandra om die vloere nat te gooi.”

Hy het probeer om vir die varke water van ’n ander plek af aan te dra. Sy sowat 40 varke het erg gely. “Die beeste was ook nie hulleself nie.”

Inwoners moes al hulle vleis weggooi, onder meer dit wat vir Kersfees aangekoop was. Foto verskaf

Van der Berg sê hy beplan nie om ’n eis teen Eskom in te stel nie, want hy het nie geldelike skade om te wys nie. “Daar is byvoorbeeld nie 20 varke dood nie.”

’n Werknemer van Eskom het hom 12:00 verlede Saterdag gebel om te vra of die krag op die plaas af is. “Ek het gesê ek gaan net kyk. Ek het toe gesien dat my krag wel aan is. Maar dit was op my plaas Gretna.

“Dis sowat 4 km van my plaas Berlein af, waar daar nie krag was nie en waarop twee huurders bly wat nie krag gehad het nie. Ek toe nog nie geweet dat die ander plaas se huurders nie krag gehad het nie.”

‘Eskom se kantoor in Bloemfontein is verbruikersonvriendelik’

’n Buurman het gekla oor ’n paal wat dreig om om te val, sê Van den Berg. “Baie mense het by Eskom gekla, maar hulle kom nie terug om te sê wat fout is nie. Daar is vier plase wie se krag afgesny was.”

Hy is ontstoke oor die swak diens wat hy met die jare van Eskom kry, selfs toe hy nog ’n melkboer was. “Soms was die krag net saans af, en dan kon die koeie nie gemelk word nie en moes dan vroeg die volgende oggend gemelk word om die uiers te laat sak.”

Eskom se kantoor in Bloemfontein is verbruikersonvriendelik, meen hy, want sekuriteitspersoneel stuur ’n mens van bakboord na stuurboord van die een sekuriteitshok na ’n ander terwyl hulle verhoed dat verbruikers die gebou binnegaan.

‘Ons het die hele langnaweek sonder krag gesit’

“Ons moet maandeliks ons elektrisiteitsmeters se lesings afneem en instuur, maar die rekening fluktueer geweldig. Dit laat ’n mens wonder of die lesings maandeliks in ag geneem word wanneer die rekenings bepaal word.”

Willem van Rensburg, wat ook op Berlein woon, sê sy krag het Saterdag (14/12) om 12:00 afgegaan. “Ek het onmiddellik die klagte by Eskom aangemeld en ’n verwysingsnommer gekry.

“Ons het die hele langnaweek sonder krag gesit. Elke keer as ek op hulle app met die verwysingsnommer gaan kyk het, het dit gesê dat die tegnici bykomende hulpbronne nodig het.”

‘Albei my vrieskaste het ontdooi en die water loop daaruit’

Hy sê teen Dinsdag is hy na Eskom in Henrystraat, Bloemfontein. “Ek het toe agtergekom daar is ’n gebreekte paal. Maar Eskom se enigste boormasjien is in die werkwinkel en hulle sal die boor eers in Januarie kan terugry.

“Ek het weer ontsteld geraak. Ek met toe by personeel gehoor hulle gaan ’n plan maak vir vier kliënte wat sonder krag sit deur ’n boor van Welkom af te laat kom.”

Donderdag om 16:00 is twee trokke by die kraglyn gewaar en Donderdagaand om 23:53 het die krag weer by hom aangekom. “Albei my vrieskaste het ontdooi en die water loop daaruit. Ek is te bang om die deure oop te maak, want dit gaan ’n stinkende en (vrot) gemors binne wees.”

Van der Berg se varke het in hulle kos gaan lê om net ’n bietjie koeligheid te kry. Foto ter illustrasie: Canva

Hy sê die omvang van die skade by hom, moet nog bepaal word. “Die groot probleem is die swak kommunikasie en terugvoer van Eskom. Hulle sê ’n mens nie wat die probleem is en hoe lank die krag gaan af wees sodat jy kan beplan nie.”

Die VF Plus het intussen ’n klagte by Eskom ingedien oor die week lange kragonderbreking.

Stefanie Jansen van Rensburg, Eskom-woordvoerder, sê hulle is jammer oor die ongerief wat verbruikers ervaar het en neem kennis van hul ontevredenheid. “Ons probeer elke dag om ons kliëntediens en onderhoud te verbeter.”

OFM Nuus/Marietjie Gericke mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.