Central SA
Inwoners van Kakamas vrees selfs erger waterkrisis─── 13:00 Fri, 20 Dec 2024
Inwoners van Kakamas moet saamleef met ’n watersuiweringsaanleg wat dreig om die gees te gee, gereelde wateronderbrekings en wurms in hul vuil kraanwater.
Wanneer water wel die slag vloei in die krane van dié dorp op die oewer van die Oranjerivier, sowat 80 km wes van Upington, is dit te vuil om te drink. ’n Gemeenskapsleier en aktivis, Leonard McKay, sê soms krioel rooi wurms in die water.
’n Inwoner, Ernestine Isaaks, sê in die somermaande, wanneer die kwik gereeld bo 40 °C gaan draai, moet hulle klaarkom met vuil water en gereelde onderbrekings in die toevoer. “Dié tyd van die jaar kry ons ons rooi wurms. Ons weet ons sal dit kry.”
Dit is duidelik Kakamas se wateraanleg gaan agteruit. Foto: GroundUp
Sosialemediagebruikers plaas gereeld foto’s en video’s van wurms in mense se water. Dit kan bloedwurms wees, wat skadeloos is, maar wys iets skort met Kakamas se watervoorsiening.
Die dorp se enigste waterbehandelingsaanleg toon duidelike tekens van agteruitgang. Van die toerusting werk glad nie meer nie. Die aanleg het onvoldoende personeel, en werkers het nie die nodige gereedskap nie.
Chloor word steeds met die hand in die drinkwater gemeng, en tydens GroundUp se besoek is daar dae lank geen chemikalieë afgelewer nie.
Binne-in Kakamas se watersuiweringsaanleg, wat dreig om op te pak. Foto: GroundUp
McKay sê die vuil water is veral kommerwekkend, omdat kinders die kraanwater drink sonder om eers te kyk of dit skoon is.
Haar gesin drink glad nie meer die kraanwater nie, sê Hildegard de Wee, aangesien “stokkies” en “swart en bruin goed” gereeld by die krane uitkom.
Dit gaan nou al omtrent vyf jaar so, sê sy. Al om die tweede of derde dag koop hulle 20 L water.
Geen noodplan
Baie inwoners kan dit egter nie bekostig om gereeld water te koop nie.
McKay is bekommerd dat die Kai !Garib-munisipaliteit geen noodplan het as die aanleg sou oppak nie. “Ons sal maande lank sonder water sit,” waarsku McKay.
Mense sal moet toustaan by openbare watertenks.
Sommige damme by Kakamas se watersuiweringsaanleg is vol slik. Foto: GroundUp
Kai !Garib het in sy 2023-verslag verklaar dat die Kakamas-wateraanleg “enige tyd oomblik die gees kan gee” en dat dit “verwoestende gevolge vir die gemeenskap en munisipaliteit” sal hê.
Luidens die verslag is die aanleg ver onder die vloedlyn gebou en verby sy gebruiksduur, wat groot uitdagings inhou. Die koste vir ’n nuwe aanleg word op R80 miljoen geskat, en die munisipale infrastruktuurtoelae is “te klein om hierdie noodgeval te hanteer”.
Die aanleg kan nie aan die daaglikse vraag voldoen nie, lui die verslag. Die meeste meganiese toerusting is in ’n “swak toestand” en verby sy lewensduur. Filters is in ’n swak toestand, wat bydra tot die swak watergehalte, en die doseertoerusting is ook in ’n swak toestand.
Blou Druppel-telling 16%
Die departement van water en sanistasie bevestig dat die meganiese, elektriese en doseertoerusting by die Kakamas-aanleg die einde van hul diensbare leeftyd bereik het. Dis sowat 37 jaar oud.
Kai !Garib se jongste Blou Druppel-telling, wat verlede jaar deur die water en sanitasie uitgereik is, was net 16%, ver onder die minimum teiken van 31%. Kakamas se Blou Druppel-telling was 23%.
Al 16 watervoorsieningstelsels in die munisipaliteit is in ’n kritieke toestand.
Kakamas is ’n klein landbougemeenskap in die dorre Noord-Kaap. Foto GroundUp
Wisane Mavasa, woordvoerder van die nasionale waterdepartement, sê pogings is aangewend om die munisipaliteit te dwing om sy Bou en Groen Druppel-telling te verbeter en om veilige drinkwater te voorsien.
Die departement finansier noodherstelwerk om die betroubaarheid en gehalte van water op kort termyn te verbeter, terwyl langtermynopgraderings beplan word.
Die munisipaliteit het nie op GroundUp se navraag gereageer nie.