On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Veiligheidswag van Oos-Vrystaat in hof oor skietery

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:46 Fri, 20 Dec 2024

Veiligheidswag van Oos-Vrystaat in hof oor skietery | News Article
Foto: iStock

’n Oos-Vrystaatse veiligheidswag sal na verwagting Vrydag (20/12) in die hof op Harrismith verskyn nadat hy na bewering ’n inwoner tydens ’n bakleiery geskiet het.

Harrismith se polisie het die privaat veiligheidswag Woensdag (18/12) in hegtenis geneem, sê ao. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Hy staan tereg op ’n aanklag van poging tot moord.

Die 43-jarige het die slagoffer (ook 43) na bewering met sy werksvuurwapen geskiet nadat dié glo geweier om sy motorsleutels en kettingsaag af te staan.

‘Die wagte het hom opdrag gegee om die hout van sy bakkie af te laai’

Mophiring sê die klaer het die aand hout aan die voet van Harrismithheuwel met sy bakkie bymekaar gemaak toe twee veiligheidswagte hom nader. “Die wagte het hom opdrag gegee om die hout van sy bakkie af te laai, wat hy toe gedoen het.”

Toe die slagoffer weier om sy motorsleutels en kettingsaag vir die wag te gee, het die twee mans mekaar te lyf gegaan, sê Mophiting. Tydens dié bakleiery is die slagoffer in die regterknie geskiet. Hy is na ’n plaaslike hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Volgens Mophiring is die veiligheidswag later daardie dag in hegtenis geneem, toe beamptes op sy dienspistool en ammunisie beslag gelê het.

‘Met haar in die bosse ingery’

In ’n ander geval van poging tot moord bly ’n Vrystaatse man in aanhouding hangende verdere polisieondersoeke nadat hy na bewering sy meisie om die lewe probeer bring het.

Tshepiso Mofokeng (33) het op 2 Desember vlugtig in Virginia se landdroshof verskyn nadat hy haar na bewering by ’n plaaslike taverne gegryp, te lyf gegaan en met ’n voertuig beseer het.

Volgens Palesa Thabana, polisiewoordvoerder, het Mofokeng die slagoffer na buite gesleep en met haar in die bosse ingery, waar hy aangehou het om die haar aan te rand omdat sy glo saam met ’n ander man in die taverne gekuier het.

‘Die beskuldigde het haar toe by die hospitaal afgelaai’

Die beskuldigde het haar glo ook met sy voertuig gestamp en oor haar gery, het Thabana gesê.  

“Sy is ernstig beseer. Die beskuldigde het haar toe by die hospitaal afgelaai.”

Die beskuldigde sal na verwagting vroeg volgende jaar in die hof verskyn.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.