On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Jong Vaalparker sterk aan ná botsing met vragmotor

───   MARIETJIE GERICKE 07:00 Thu, 19 Dec 2024

Jong Vaalparker sterk aan ná botsing met vragmotor | News Article
Zandré van Wyk en sy meisie, Juanmari de Lange, voor die ongeluk. Foto: Facebook

’n Jong man van Vaalpark wat begin vandeesmaand in ’n botsing met ’n trok op die R59 ernstig beseer is, sterk steeds aan in Bloemfontein nadat hy eers twee weke ná die ongeluk geopereer kon word.

Dit gaan onder omstandighede goed met Zandré van Wyk (27) en hy sterk goed aan, sê Mondli Mvambi, Vrystaatse gesondheidswoordvoerder.

Noodspanne moes die aand van 4 Desember sowat twee uur spook om Van Wyk uit die wrak van sy motor te bevry ná die botsing onderweg huis toe vanaf sy werk in Vereeniging. Hy is met beenbreuke, ernstige beserings aan sy knieë, sowel as inwendige beserings in die Pelonomi-streekhospitaal opgeneem is.

Noodspanne moes sowat twee uur spook om Van Wyk uit die wrak van sy motor te bevry. Foto: Vaalweekblad

Van Wyk se pa, André van Wyk, het aan Vaalweekblad gesê Zandré het pas die vorige dag sy 27ste verjaarsdag gevier

Op die noodlotige aand was hy omstreeks 21:30 op pad huis toe toe die botsing by Caltex op die R59 by Vaalpark gebeur. Hy was alleen in die voertuig.

Nadat hy op die toneel gestabiliseer is, is hy na die Sasolburgse hospitaal vervoer en die volgende dag Bloemfontein toe oorgeplaas.

‘Ons kan nie genoeg dankie se nie’

“Albei sy bene en knieë is gebreek. Hy het verskeie snye en skrape opgedoen en het ook ’n harde hou teen die lewer en kop gekry,” sê pa André.

Vaalweekblad het berig Zandré sou geopereer moes word om sy regterbeen se gebreekte femur met ’n pen te heg.

Sy pa het almal bedank wat Zandré die aand met die ongeluk bygestaan het, elke paramedikus, elke nooddienslid, Ruan Coetzee van Public Eye en almal wat op ’n manier op die ongelukstoneel gehelp het.

Van Wyk in die hospitaal ná die ongeluk. Foto: Vaalweekblad

“Die ondersteuning vanuit die gemeenskap was absoluut oorweldigend. Dankie vir elke oproep en boodskap. Ons kan nie genoeg dankie se nie,” laat weet hy.

Van Wyk sr. was nie Woensdag bereikbaar nie.

Die gesin het ’n geldinsameling begin om Zandré te help met sy mediese onkoste van ’n geskatte R200 000.

OFM Nuus/Marietjie Gericke mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.